Antwoord op... RESPEK VIR HIERDIE REGERING?

VRAAG

 n.a.v. die dagstukkie oor respek vir gesag

Hallo Jimi – asb. kan jy dit vir my in perspektief stel.  Verwag God werklik van my – nee, gee hy werklik vir my die opdrag om my te onderwerp aan die sg. gesag in hierdie land en hulle te respekteer.  Dit is tog net menslik onmoontlik om sodanige gesag wat deurspek is met leuens, korrupsie, brutaliteit, selfsug, ens. ens. te respekteer?  …

 

ANTWOORD

 Haai – ja, ek verstaan jou gevoelens.  Ons leef in ‘n baie deurmekaar wêreld en dis moeilik...  ek dink aan die volgende:

  • Ja, die regering wat ons het is beroerd en korrup –pateties is die woord.  Hier en daar is daar goeie punte en in die geheel is ons almal beter af volgens statistiek.  Misdaad en geweld is natuurlik buite beheer en dalk moet ons maar nie eers begin oor al die issues nie...
  • Gesag moet egter losgemaak word van die persoon wat die gesag dra.  In die weermag salueer ons die rang, nie die persoon nie, alhoewel ons weet dat hy Vrydagaand dronk tekere gegaan het.  Ek sukkel ook om mense te respekteer wat dit in my oë nie verdien nie, maar tree nogtans met respek teenoor hulle op, want dis die ordentlike soort mens wie ek wil wees.  Dis vir my oulik dat die Bybel sê ons moet die grys hoof (m.a.w. die ouderdom) respekteer (die gesag), nie net die persoon nie.  Daar is iets in dat mense bo-en-behalwe dit ook nog respek deur hul gedrag moet verdien;
  • As ons almal met disrespek teenoor gesag gaan begin optree, sal ons ophou belasting betaal, op die pad ry soos ons wil en links en regs begin lieg en bedrieg – solank ons nie uitgevang word nie, nie waar nie?  Bo en behalwe dat dit nou chaos sal meebring, is die erger ding dat ons dan net so wetteloos soos die beskuldigdes geword het.  Hulle doen so, daarom doen ek so.  Dan het die ordentlike mense ook korrup geword en kan niemand meer ‘n vinger wys nie;
  • Die Nuwe Testament ken hierdie situasie baie goed.  Hulle het Romeine om elke hoek en draai gehad wat hulle land beset het, hulle swaar belas het en sommer maklik iets van hulle afgevat het.  Nogtans sê Paulus keer op keer dat Christene aan daardie goddelose regering – wat afgode aanbid het – onderhorig moet wees.  Daar is dus geen twyfel dat die Bybel dit leer nie.  Die werklik moeilike saak hierin is Jesus se lering.  Hy sê van die Romeine dat ons hulle die ekstra myl moet gee, die onderkleed ook, die ander wang moet draai.  Dat ons nie die vyand mag haat nie, maar moet liefhê.  Hy sê as ons net liefhet wie ons liefhet is ons maar soos al die heidene.  DIT is nie maklik nie – maar dit is hoe radikaal die evangelie is.  Ons harte moet verander van haat na liefde.

Dis waarmee ons moet stoei in hierdie land!  Die Here moet ons help...

 

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Replies are closed for this discussion.