Antwoord op... RUK JOU OOG UIT

 

Ek is 'n man - moet ek my oog uitruk?

Ek het met my neef Timothy Kieswetter ‘n interessante korrespondensie gehad oor ‘n artikel wat hy geskryf het vir ‘n tydskrif.  Dit gaan oor die bekende uitspraak van Jesus dat ons ons oog moet uitruk as dit ons pla (Mat 5:28-29):

Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.  As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. 

Timothy, wat studeer as seksuoloog,  voel dat ons hierdie verse lees met ‘n Victoriaanse bril op, en uitkom by ‘n gevolgtrekking wat  meer met preutsheid en heiligheids-tradisies te doen het, as met Jesus se werklike bedoeling.  Ek is dit met hom eens, veral as jy dit in die Engels lees, met al die thee’s en thou’s en die to lust after her en dan sê: pluck out thine eye!  Mens is amper lus en doen dit, maar hier is die punt: ons het nog niemand ontmoet wat dit al gedoen het nie.  Dis asof hulle die eerste deel van Jesus se stelling letterlik opneem (begeerte) en die tweede deel figuurlik (uitpluk). Hy voel daar is meer om daaroor te sê, en ek sal aan die einde daarheen terugkeer.  My bydrae tot die gesprek was (min of meer) soos volg:

VERSOEKING IS NIE SONDE NIE

Ek stem saam dat die Here ons gemaak het met sekere ingebore drange, bv. tot kos, tot rus, tot aktiwiteit, tot seks.  Insigself is die drang nie verkeerd nie en nie sondig nie.  Mans is juis ook so visueel ingestel en vroue kan ‘n man se aandag trek soos ‘n bord kos – is dit verkeerd?  Ons het gesê nee, die inklinasie tot vroue of tot seks is nie sonde, maar ‘n natuurlike, biologiese drang.  Om versoek te word is nie sonde nie, maar dit kan wel sonde word.  Versoekings is deel van hierdie wêreld.  Versoekings kan egter lei tot sonde.  Dit hang af wat ons met die versoekings maak.  Versoekings moet reg hanteer word.  Versoekings moet weerstaan word.  Die gevolgtrekking van hierdie paragraaf is dat Jesus nie bedoel dat ‘n man nie na ‘n vrou mag kyk of haar aantreklik mag vind nie.

KYK-OM-TE-BEGEER IS SONDE

Dit gaan oor iets meer.  Jesus sê as jy “kyk om te begeer”, is waar dit sonde word.  Die woord “begeerte” is in die Skrif ‘n neutrale woord, soos in Afrikaans.  Jesus sê self hy het “sterk begeer” om die laaste Pasga met die dissipels te eet (Luk 22:15).  Begeerte op sigself is net ‘n sterk drang tot iets, goed of sleg. Wat bedoel Jesus hier?  Daar is een van twee moontlikhede:

1) Bedoel Hy maar net dat iemand sou begeer om ‘n ander se vrou (sien hierna) vir homself te vat, oor die algemeen?  Onthou, dis wat die 10de gebod bedoel met “jy mag nie begeer nie” – om iets op jaloerse wyse vir jouself te begeer, om ontevrede te wees met wat jy het, om ‘n ander nie iets goeds te gun nie.  Dit gaan dan nie daar oor seksuele begeerte nie  - dis eerder waaroor die 7de gebod gaan. 

2) Of bedoel hy inderdaad seksuele begeerte, wellus, begeer-om-egbreek-te-pleeg?  Vanuit die res van die vers lyk dit so.  Egbreek pleeg is om seks te hê buite die huwelik.  Iewers word dus ‘n grens oorgesteek tussen gewone kyk en sondig begeer, tussen ‘n natuurlike drang en die koester van ‘n idee, ‘n fantasie, ‘n seks-met-jou-vrou-in-my-gedagtes.

JA, HY BEDOEL GETROUDES

Iets wat ons kan byvoeg, en dit maak ‘n hele ander gesprek oop waarmee ons nie verder gaan nie, is dat Jesus mik op getroudes, nie ongetroudes nie.  Hy praat van egbreuk.  Die woord “vrou” wat hy hier gebruik (gunê) kan eintlik enige vrou beteken, maar is ook die enigste woord vir ‘n getroude vrou, ‘n wife.  Die Skrif se hele etiek rondom seks gaan sterk oor ‘n ander se vrou, oor egbreuk.  Spreuke se waarskuwings is bv. veral gemik op ‘n ander se vrou.  Onthou, hulle hele kultuur was so anders as ons s’n en hulle het nie veel “loslopende” vroue gehad  nie, want hulle het verkieslik vroeg verloof geraak (12-13) en getrou (15-17).  Om met ‘n ander se verloofde seks te hê was ook egbreuk. Selfs prostitute was dikwels getroud.  Die kultuur was so anders, dat ons meestal ook nie die volgende besef nie:

  • die oortreding van egbreuk pleeg het eerstens teenoor haar man gegaan, nie die vrou nie (of teenoor haar pa, as sy ongetroud was), omdat dit sy eer ernstiglik geskend het.  Dit was ‘n patriargale wêreld; 
  • natuurlik het die verbod op egbreuk (en egskeiding) ook vroue beskerm, omdat sy as geskeide dit besonder moeilik sou gehad het.  Vroue het geen werk en dus geen inkomste gehad, buiten by haar man of pa nie, en sy sou moes terugkeer na haar familie om te oorleef.  Geskeides (en diegene met ‘n klad op die naam) sou ook moelik weer ‘n huwelik kon aangaan en die res van haar lewe sou dus swaar wees.  As die Skrif dus streng is op egskeiding, is dit ook 'n manier om vir "vroue-regte" op te staan, so ironies as wat dit mag klink;
  • Die stabiliteit van die samelewing, van die hele beskawing, het gestaan op die absolute beskerming van huwelike as sterk en veilige ruimtes vir die uitlewing van mense se fisieke en psigiese behoeftes.  Anders was dit terug na die anargie en chaos.

Alhoewel die beginsel sekerlik sou deurtrek na ongetroudes, praat Jesus dus met getroude mans wat kyk of mans wat na getroude vroue kyk.

REEDS EGBREUK GEPLEEG

 Jesus sê in hierdie hele hoofstuk dat die oortreding reeds in die hart begin.  Haat en woede in die hart (weereens iets wat bedink en fantaseer word, nie net ‘n “normale” reaksie, emosie of versoeking nie), is reeds moord, sê Hy; aktiewe begeerte is reeds egbreuk.  Jesus is altyd geneig om

(1) die wet hart toe te neem – teenoor die Fariseërs wat veral die wet se uiterlike gestalte (dade) raaksien – en

(2) die wet se wese uit te lig, sy bedoeling te verstaan, by die essensie te bly – teenoor die Fariseërs wat ‘n aansienlike klomp byvoegings  kom maak het. 

Op sy manier maak Jesus ook ‘n “heining” om die wet - soos die Fariseërs gedoen het – Hy maak dit strenger, maar op die regte, dieper manier.  Hy sê dit gaan reeds oor ons motiewe.  Jesus wil hê ons moet ons hart en gedagtes dophou.  Onuitgesproke hier sê Hy dat ons begeerte na ons eie vroue en mans moet wees, soos die Skrif algemeen sê.

RUK JOU OOG UIT!

Nee, Jesus bedoel dit nie letterlik nie, en daarom sien ons nie eintlik iemand wat hul oë (of wat ook al pla) uitgeruk het nie. [Dit sou ook nie letterlik werk nie, want die begeerte is mos in die hart, sê Jesus - sonder oë (of wat ook al) sou die begeerte maar ewe erg in die hart kon voortwoeker].  Jesus maak  van oordrywing gebruik.  Jesus gebruik dikwels idiomatiese maniere van praat  (stylfigure)– selfs sarkasme (waar Hy bv. sê ons moet maar vriende gaan maak met Mammon en kyk of dit vir ons in die ewigheid sal help – heel waarskynlik sarkasme).  Hy gebruik nogal dikwels oordrywing (hiperbool), bv. by die kameel en die oog van die naald, die balk in jou eie oog, die man wie se R20 miljoen se skuld afgeskryf word en dan ‘n kollega laat opsluit vir R20, ens.  Jesus gebruik oordrywing as Hy sê – nou pluk dan jou oog uit jou kop as dit jou pla – as HY bedoel  DEEL met dit wat jou geestelik hinder, raak daarvan ontslae. Ek sou sê: ruk jou verkeerde blik op vroue uit en vervang dit met die regte blik.

JOU HELE LIGGAAM IN DIE HEL

Ook die woord gehenna (“hel”) is in die Skrif eintlik meer ’n metafoor vir die hel. Dit klink nou snaaks... Daarmee bedoel ek dat die tema van die hel wel heel letterlik in die Skrif hanteer word, en Jesus gebruik dit met die grootste erns, maar dat die Skrif baie min oor die letterlike plek-sonder-God vertel.  Die Skrif praat daarvan in metafore en op retoriese manier: om te waarsku, te vermaan, te pleit.  “GeHinnom” (waar die woord vandaan kom) was letterlik die vullishoop van Jerusalem, waar die “vuur nooit doodgaan en die wurm nooit sterf nie”, waar die onrein melaatses rondgedwaal het en eenkeer ook vir Molog kinders geoffer is – ‘n simbool van absolute onreinheid en Godverlatenheid;  anders praat Jesus van die hel as die “buitenste duisternis”.  Ook van die “hemel” word in metafore gepraat.  Die punt hier is maar net om te sien dat Jesus se uitspraak minder letterlik is as wat ons mag dink. Hy sê ons moet radikaal deel met dit wat verkeerd is, want ons kan sonder God eindig. Om God te behaag moet ons GROOTSTE prioriteit wees.

Jesus waarsku dat ons motiewe, ons keuses en ons dade eendag geoordeel sal word.  Deel eerder nou daarmee.  Wat betref begeerte en egbreuk, sê Jesus ons moet deel met dit wat pla sodat die huwelik behoue kan bly.

Timothy neem dit nog verder en sê (ek vat dit saam):

  • Die blik op ‘n ander se vrou as die gevolg van jou eie ongelukkigheid of ontevredenheid met jou eie vrou of huwelik – daardie begeer-iets-anders is sonde.  So een soek ‘n rede om te skei;
  • Daardie oog moet uitgeruk word, m.a.w. kyk terug na jou eie huwelik, rig jou oog en jou begeerte daar en maak dit reg.  “Verander aan jouself” om dit te laat gebeur. Kyk met "nuwe oë" na jou eie vrou;
  • Anders mag jy in die “hel” van ‘n slegte huwelik of egskeiding beland!
  • Dit is nie goed genoeg om getroud, maar ongelukkig te bly nie – maak werk daarvan.

Gesonde seks gaan nie óór die grense nie, maar word ook nie ontken of onderduk nie – aangesien die natuurlike drang deur die Here ingeskape is.  ‘n Al te letterlike uitleg van die teks kan maak dat mans glo hul moet ook hul gesonde seksualiteit afskakel, wat slegs tot obsessie en verslawing verder af in die pad sal lei.  Dit is immers waarvoor die gesonde huwelik daar is!

Ten slotte moet ons beklemtoon dat al die bg. ook geld vir vroue, nie waar nie?  Hulle kyk ook na sommige mans, ander mans as hulle eie, met 'n begeerte in hulle hart - dalk nie seksueel nie (of dalk wel), maar emosioneel.  Ruk daardie oog uit!  Kyk met "nuwe oë" na jou eie man.  En so aan...

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –