Hoe bemoedig ek ‘n vriend wie se vrou selfmoord gepleeg het? Hy worstel met die gebeure omdat hy nie seker is of hy haar weer eendag sal sien nie - sal sy hemel toe kan gaan? Sy was baie gelowig maar was baie depressief die laaste tyd, en toe sy deur ‘n swaar trauma moes gaan kon sy nie meer nie. Ek wil hom graag die versekering gee dat sy veilig is, maar hoe weet ons ons Vader in die Hemel sal so iets vergewe?
ANTWOORD
Hallo daar
Die Skrif gee nie spesifieke lering oor die kwessie van selfdood nie, maar uiteraard word dit in die Bybel in negatiewe terme geskilder. Dit bly ‘n vreeslike, vreeslike ding wat gebeur. Ons moet egter twee dinge in gedagte hou:
1) So ‘n persoon sak deur sy depressie in ‘n gat af waarin sy nie meer nugter of rasioneel kan dink nie. Dit gebeur oor ‘n lang tyd en baie dinge speel ‘n rol, bv. genetika, fisiologie, psigologie, omstandighede, snellergebeure. Breinchemie veroorsaak dat hulle NET die slegte kan sien, en dat enige “goeie nuus” of goedbedoelde advies vir hulle alles net nog erger maak. Hulle kom by die punt dat hulle letterlik geen krag oor het nie (depressie ontneem jou van jou innerlike energie, want die psigologiese funksie van depressie is om jou uit die stryd uit te neem), of hulle glo van harte dis beter vir almal dat hulle nie daar sou wees nie. Die ergheid en geweld van die daad getuig in watter toestand so ‘n persoon moes wees. So een is nie toerekeningsvatbaar nie. Die Here weet dit – Hy ken so een se hart immers nog beter as ons.
2) Ek glo wel dis ‘n sonde om so iets aan jouself te doen, want God se wil is dat ons sal LEWE, maar soveel dinge het waarskynlik in haar lewe gebeur wat nie sy wil was nie, dat dit moeilik raak om te onderskei wat die grootste of eerste sonde is. Ons moet onthou dat ons almal met sonde deel, elke dag. Geen kind van God is sondeloos nie! As God ons sonde in ag moes neem - en met baie dinge is ons tog maar opsetlik - is ons almal verlore. Daarom het Christus egter gesterf! Hy het mos vir elke sonde betaal en daardie sonde van selfdood is dus reeds gestraf en afgehandel op die kruis. As ons Hom aanneem vergewe Hy ons sonde – verlede, hede en toekoms. Hy het reeds geweet (soos met elkeen van ons) wat sy sou doen en het haar nogtans in liefde aangeneem. So is my en jou toekomstige sondes ook reeds vergewe. Christus doen nie halwe werk nie – ons is nie half-en-half gered nie! Ons is volkome gered, VAN ONS SONDE en ons ONVERMOë OM IETS DAARAAN TE DOEN.
Ek glo dus met my hele hart hierdie vriendin rus in die hande van haar Maker. Die agtergeblewenes worstel dikwels met die kwessie omdat hulle baiekeer ook hulleself blameer. Dalk dink hulle hul moes beter daarmee gedeel het toe sy nog geleef het. Jou vriend moet homself vergewe en ook vir haar vergewe – al neem dit ‘n tyd. So iets gaan sit nie in jou klere nie en om ‘n jaar of twee te rou is normaal en te verstane. Iewers vorentoe, as hy gereed is, moet hy egter weer besluit dat die/sy lewe die moeite werd is om te leef. Mens moet ook beklemtoon dat so ‘n begrypende en liefdevolle verstaan van selfdood nie mense moet laat glo dis oukei nie. Elke depressie-lyer wat dit oorweeg moet so goed as moontlik verstaan dat so 'n daad verwoesting sal saai in hulle geliefdes se lewens. Hulle geliefdes sal nooit, ooit weer dieselfde wees nie. Kry eerder alle hulp wat jy kan en onthou dat depressie dikwels in episodes voorkom. Later voel mens dit minder akuut en sien mens weer kans.
Baie sterkte.
Replies