'n Broer het my hieroor uitgevra en ek het na 'n lang gewag begin om iets te skryf. Ek moes geweet het dat mens nie sommer so vinnig oor die uitverkiesing kan skryf nie - dit het toe 14 bladsye (en omtrent 5 dae) geword. Ek was egter bly om daaroor te kon skryf, want ek voel al lank om die spanning wat ek met die klassieke Calvinistiese uitverkiesingsleer beleef neer te skryf. Die meegaande dokument sê darem wat ek wil sê. Dit bevredig my meer. Ek is bevrees ek is daarmee uit die klassieke skema uit en nie meer 'n egte, regte Calvinis nie, maar soos ek op die dokument aandui, is ek nie 'n anti-Calvinis nie, maar so iets van 'n post-Calvinis. Ai...
Laai gerus die dokument hier af (kliek hier) en lees dit as jy kans sien, of soos ek 'n onrustigheid oor die uitverkiesing beleef. Dalk sal jou leraar belangstel, maar of hy of sy daarvan gaan hou weet ek nie... Ek som my gevolgtrekkings op vir die wat nie verder as hier wil gaan nie.
Sterkte!
- Ek glo dat almal wat waarlik in Christus glo uitverkies is.
- Ek glo dat God nooit onregverdig is nie, en trouens nie kan wees nie. Ek glo ons sin vir regverdigheid kom van Hom.
- Ek glo dat God die inisiatief tot saligheid neem, maar Hy doen in algemene so vir almal.
- Ek glo dat God die hele wêreld – dus alle mense – liefhet.
- Ek glo dat Christus vir die hele wêreld – dus vir elke mens – gesterf het.
- Ek glo dat elke mens ‘n werklike vrye wil het - wat natuurlik binne sy beperkings verstaan en uitgeleef moet word.
- Ek glo dat daar ‘n sinergie werksaam is in die heilshandelinge tussen God en mens. God wil en die mens wil - en die mens se wil is 'n egte wil en 'n egte keuse. Enige leer wat die mens se wil reduseer tot iets wat God aan- of afskakel, gaan teen die grein in van die hele Bybelse verkondiging.
- Ek glo dat daar 'n uitverkiesing tot saligheid is, want die Bybel leer dit, maar dat die uitverkiesing God se "bo-die-tyd" beskouing en waarheid t.o.v. die bg. sinergie beskryf, soos wat geloof en bekering ons "in-die-tyd" beskouing en waarheid daarvan beskryf. Beide is aspekte van dieselfde redding.
- Ek glo die bogenoemde beskryf God se genade, soewereine wil en eer ewe goed of beter as enige ander uitverkiesingsleer, bv. die Calvinistiese.
- Ek glo dat ons klassieke uitverkiesing-dogma dikwels geformuleer is vanuit verse wat nie noodwendig oor die uitverkiesing tot redding gaan nie, want uitverkiesing in die Skryf dui op baie dinge: tot redding, tot goeie werke, tot 'n voorbeeld (bv. die verbondsvolk) en omsluit soms God se vooruitbepaling en soms sy gewone vooruitkennis. In daardie sin staan 'n gelykskakeling in 'n dogma in nie op goeie eksegese nie en is nie altyd ewe geldig nie. Ek dink dit begin dikwels in die Skrif, maar word deur "logiese" redenering iets wat buite die Skrif eindig.
- Ek glo dat die uitverkiesing ook baie meer is en dat ons die goddelike misterie daarvan nie hier behoorlik kan begryp of beskryf nie. Ek glo dat ons net iets oor die uitverkiesing kan sê en nie alles nie. Daarom moet ons iewers in die middel - op 'n onbevredigende punt - die gesprek beeïndig.
Replies