VRAAG
Waarom wil sommige kerke nie vroue toelaat om predikante te word nie, en ander wel?
ANTWOORD
Dit hang eintlik af hoe mense die Bybel lees. Paulus reël die saak uitdruklik as hy sê:
- 1 Kor 14:34-35 Vroue moet in die gemeente stilbly – hulle kan tuis vir hulle mans iets vra as hulle iets wil weet. Dit is “lelik” vir ‘n vrou om in die gemeente te praat;
- 1 Pet 2:11-15 Vroue word nie toegelaat om in die erediens te leer of oor mans gesag uit te oefen nie.
Vroeër is dit net so aanvaar en daarmee was dit uit en gedaan. Vrouens moes onderdanig wees (Ef 5:22, Kol 3:18, 1 Pet 3:1), Adam is eerste gemaak (1 Tim 2:13), ens. Baie kerke volstaan daarmee. (Sommige laat vroue as diakens toe, want dis 'n diens-amp, maar waar diakens en ouderlinge dieselfde stem het op die kerkraad kom dit maar op 'n snaakse ironie neer...).
Later is egter besef dit is nie so eenvoudig nie. Dit het ook te doen met die kultuur van die Bybelse tyd en ons kultuur. Die mooiste voorbeeld van hierdie kwessie is die volgende:
- 1 Kor 11:1-16 Vroue moet in die diens ‘n hoofbedekking opsit, want dit eer haar hoof, nl. haar man.
Die bg. voorskrif is vir baie eeue letterlik toegepas (tot vandag) en het vroue hoede opgesit kerk toe, of in die Oosterse Kerk ‘n kopdoek. By ons het dit snaakse vorme aangeneem: reuse hoede, klein kadotjies, so ietsie met ‘n net-dingetjie voor die gesig of sommer net ‘n grand pluim. Dit eer dan nou haar man, maar niemand weet hoekom nie. Toe later – meer in ons tyd – begin die besef daag dat mens dalk beter daarna kan kyk. Paulus wil hê die vrouens moet gesluierd kerk toe kom en die rede is hulle kultuur. Hy sê self die “algemene opvatting” is dat ‘n vrou lang hare moet dra, en dat hulle self moet beoordeel of dit “betaamlik” is dat ‘n vrou sonder iets op haar kop sal aanbid. Die saak is duidelik as ons verstaan dat getroude vroue in daardie tyd gesluier geloop het en dat lang los hare beskou is as uitlokkend. Dit was pleinweg onbetaamlik. Skielik het die Bybelkundiges verstaan dat Paulus net vir die vroue in hulle konteks en kultuur sê dat hulle betaamlik moet kerk toe gaan. Die korrekte toepassing van die opdrag vir vandag is dus nie dat vroue een of ander dingetjie op die kop sal balanseer nie, maar dat hulle betaamlik kerk toe sal kom. Dit eer nie ‘n man as die ander mans heeltyd vir sy vrou loer, omdat sy uitlokkend aangetrek is nie. Dit maak mos nou sin!
Duidelik werk hy binne in sy kultuur en konteks (en hoe anders) en tref reëlings wat vir die goeie getuienis van die kerk sou wees. So dan ook met die feit dat vrouens moet stilbly in die diens, ens. Daar was ‘n hemel-en-aarde verskil tussen hulle tyd en ons s’n wat vroue betref. Onthou, vrouens was letterlik tweedeklas burgers: hulle kon nie erf nie, kon nie in ‘n hof getuig nie, kon nie skei nie – alles dinge wat ‘n man kon doen. Hulle het nie saamgepraat oor stadsake nie, het meestal nie eers mark toe gegaan nie, dit was manswerk. Hulle het nie alleen rondgedwaal in die dorp nie - dit was nie reg nie. Sy en die dogters het nie saam met die mans geëet as daar gaste was nie (maar het hulle bedien), ens. Hulle het nie skoolgegaan nie, vir wat? Haar terrein was die huis, die kinders en die kos. As vrouens nou begin lering gee en regeer in die gemeente, sou buitestaanders daar inkom en dit heeltemal verkeerd vind. Dit sou nooit werk nie. Paulus tref dus weereens ‘n reëling oor wat in sy kultuur en konteks deugsaam is.
In ons kultuur het vroue egter totale gelykheid met mans gekry. Ons beskou dit nie as verkeerd of onbybels nie, trouens, ons dink dit is juis die Bybelse beginsels van liefde, respek en aanvaarding wat ons by hierdie punt gebring het. Die waarheid is juis dat Jesus en selfs die vroeë kerk hulle tyd en kultuur ver vooruit was wat betref vroue se posisie. Jesus het vroue met ongekende respek behandel, en ten spyte van die bg. reëlings blyk dit tog dat vroue in die diens gebid en geprofeteer het (1 Kor 11:5, Hand 21:9). Paulus het ook vroue as leiers (“vroue-oudstes”) in die gemeente gebruik – alhoewel oor ander vroue (1 Tim 5:9-13 e.v.). Selfs Paulus modifieer sy stelling as hy sê vroue is wel uit die man gemaak, maar die man immes ook uit die vrou gemaak (deur geboorte) – die een het die ander nodig (1 Kor 11:8-12). Ja, saam is ons die beeld van God (Gen 1:27). Ons hantering van vroue is net die voortsetting van presies daardie tendense.
Ons hoef nie te dink dat ons die hele antieke patriargale kultuur net so moet oorneem nie – daar is ‘n magdom van Bybelse gegewens oor kleredrag, kos, knegte, kinderopvoeding, sosiale en godsdienstige gebruike wat ons nie oorneem nie. Goeie Bybeluitleg se taak is om te kyk wat God se waardes en bedoeling is in daardie tyd, en om dan presies daardie waardes en bedoeling op ons tyd van toepassing te maak (soos in ons voorbeeld met die hoede). Ons hoef nie die tye self oor te bring, dis immers onmoontlik. Ons vraag is: Hoe sou die Here hierdie opdrag VIR ONS gegee het? Wat beteken hierdie boodskap vandag VIR ONS?
Gevolgtrekking:
Ek glo as die kultuur dit toelaat, mag vroue dus leiding neem en ook lering gee. Dit sal egter nie in tradisionele kulture werk nie - heel verstaanbaar. Onthou dit gaan oor die konteks en die gemeente se getuienis, waaroor Paulus ook nogal begaan is (v 1 Kor 14:23-25). Nog iets. Bediening staan op gawes en dis vir my moeilik om te dink dat God slegs aan mans die gawes van lering en regering gegee het. Duidelik is dit nie die geval nie, as ons om ons kyk. Vroue het ook wonderlike gawes van lering en regering ontvang en dis logies dat gawes gegee word om beoefen te word. Hoe dit prakties sal gebeur, is (weereens) afhanklik van die kultuur waarin ons leef. Onthou ons sing en bid en dink en organiseer anders as mense van ander kulture, en dis ook reg so. Die evangelie inkultureer, sê ons. Ons kan nie verwag almal moet soos ons doen nie - Jesus word steeds geëer en gedien.
Diegene wat die Skrif in die verband letterlik wil uitlê kan dit sekerlik doen, maar moet dan konsekwent wees en ten minste die vrouens in die diens laat sluiers dra – of dan 'n hoed. Anders gebruik hulle ‘n dubbele standaard – Paulus is op daardie punt immers ewe duidelik. Daar is wel kulture en Christelike groepe (bv. oos Europa), waar die vroue op hul troudag 'n wit kopdoek ontvang, en dan die res van hulle lewe met 'n kopdoek loop, as teken dat hulle getroud is. Getroude vroue loop nie met los hare nie - dis nie vir hulle Christelik nie. Sy maak haar hare los vir haar man in die privaatheid. Ek dink ons oumas het ook so 'n tipe moraal gehad. Dit is hoe hierdie opdrag dan vir ons tyd toegepas moet word as jy dit letterlik wil doen en ek het respek daarvoor (maar is bly my vrou hoef nie 'n kopdoek te dra nie...) Ek glo nie ons doen verkeerd as ons vrouens bloot respektabel en smaakvol aantrek nie.
Ns.
Daar word soms gesê dat die situasies verskil in die sin dat Paulus sy stilbly in die kerk baseer op die “skeppingsorde” – dat dit m.a.w. ‘n ewige beginsel is (nie net ‘n kulturele konvensie nie). Die man is eerste gemaak, en dan die vrou. Ons antwoord daaroor is kortliks:
1) dan moet ons die hoed opsit om konsekwent te wees, want daar in 1 Kor 11 voer hy dit ook as argument aan
2) ons verstaan die “skeppingsorde” veral as dit wat in die huwelik uitspeel. Waar dit in die Skrif gaan oor hoofskap (mans) en helperskap (vroue) moet ons die kultuur besef, maar ons kan ook oplet dat dit altyd gaan oor mans se EIE vroue en vroue se EIE mans. Dit gaan dus oor die huwelik. Daar is geen gedagte dat ALLE mans heers oor ALLE vroue nie, of ALLE vroue is onderdanig aan ALLE mans nie. Ons gaan dus na gesonde rolle in die verband in die huwelik soek. Vrouens kan leer en regeer as hulle eie huwelik so in orde is – as hulle ‘n voorbeeld en ‘n getuienis is (presies soos die Woord ook van die mans verwag). Vrouens en mans wat nie in gesonde huwelike is nie, moet nie leer of leiding neem nie, maar eers hulle huis in orde kry.
Replies
Hallo Jimi, ek stem met jou saam, maar het iets om by te voeg.
My vriendin het vertel dat die vroue en kinders nie by die mans kon
sit in die kerk tydens die diens nie. Hulle het op die gallery moes sit
en dan het die kinders bietjie geraas en een kon nie mooi hoor nie, dan roep sy
onder toe"wat se jy" . En dit is hoekom Paulus gese het wees stil en vra jou man by
die huis.
Dankie vir die bediening Here. U weet op die plase is dit soms baie nood en dan is dit nog ver na n
gemeenskap van kinders van die Here, dankie vir internet. Seen U dienaar.
Mariaan