Antwoord op... VRYMESSELAARS

3284381167?profile=originalVRAAG

Is dit waar dat Vrymesselaars die duiwel aanbid en dat mens ‘n demoniese binding kan opdoen deur aan hulle te behoort – of as jou ouers of grootouers byvoorbeeld ‘n vrymesselaar was.

ANTWOORD

Ai, net die heel gevorderde vrymesselaars sal seker al die antwoord ken en mense soos ek en jy moet werk met die inligting wat ons het.  Watter inligting het ons?

1. Die vrymesselaars (VM) is ‘n geheime groep mans wat beweer hulle organisasie gaan terug tot by Salomo se tempel. Na tradisie het vakleerlinge, vakmanne en meester-vakmanne elk hul eie geheime groet gehad, sodat die skatmeester geweet het wie moet wat kry. Jy het net jou eie vlak se teken geken – en die onder jou, natuurlik. Dis onwaarskynlik dat die VM regtig tot dan teruggaan – die geskiedenis loop ‘n bietjie dood in die Middeleeue, maar dit is nie onmoontlik nie dat legende ens. voortgeleef het in soortgelyke organisasies. 

2. Die VM het geheime rituele en simbole wat teruggaan na die tempel en die vakgilde en die klipbewerking. Hulle aanvaar alle gelowe (solank jy glo aan ‘n God), maar hulle simboliek is so half vermeng met okkulte simbole en daar is ook bokke, grafte, skedels, die son, Egiptiese simbole, ens. Dit word as 'n feit aanvaar dat die broers mekaar uitken deur hulle geheime groete, mekaar help en aanstel in maatskappye, vir mekaar beskerm in die hof en so aan. Een ou wat by ons 'n werk wou gehad het toe ek nog ‘n personeelbeampte was, het so openlik 'n VM-ring sit en ronddraai dat ek hom wou vra om dit tog weg te sit. Dit was irriterend.

3. Daar is baie Vrymesselaars om ons en die who’s who van presidente en leiers wat almal “bokryers”  is (in die volkmond) laat jou verstom – dis Afrikaanse presidente en generaals en taalstryders, die hele sprektrum (en ons praat nie eers van die Engelse en Amerikaners nie). Tot Piet Retief se waterbottel het na bewering die VM logo bevat. Die tekens is ook oral om ons. Die Voortrekkermonument is bv. gebou in die styl van ‘n Egiptiese monument (ontwerp deur argitek en vrymesselaar Gerrit Moerdyk, wat baie geboue, insluitende 80 NG Kerke in SA ontwerp het), gelaai met VM-simboliek as "altaar" en "tempel" – blykbaar sy eie woorde – alles gesentreer rondom die senotaaf (‘n doodskis). Die son skyn op die 16de Des daarop – weird...  Lees die Engelse Wikipedia onder Voortrekker Monument, dis geen geheim nie. Kon mense nie die Voortrekkers, wat tog baie gelowig was, anders huldig nie - bv. deur 'n spesiale kerk?  Die Amerikaanse eendollar-noot het ook die alsiende oog van Horus (‘n oog op ‘n piramide) op en die woorde NOVUM ORDO SECLORUM (‘n nuwe wêreldorde) – bekende VM simbole. Hoe weird is dit? Die Kaapse Parlement het heel eerste in die Kaapstadse VM-losie vergader. Voor daar ‘n Parlement was, was die VM al daar, m.a.w. Hulle het seker die losie se verrigtinge afgesluit en dan begin met die parlementsverrigtinge... Die VM het saam met die Hollanders gekom, en toe weer saam met die Engelse, en toe uitgebrei na die Boere-republieke (ek praat steeds net van Afrikaner-vrymesselaars). In 1972 was daar meer as 500 VM losies in SA. Op baie Anglikaanse kerke en katedrale is die VM logo (passer en regtehoek) pragtig op die hoeksteen. 

So – dis waarvan ons weet, en die helfte daarvan is ook maar spekulatief.  Wat om daarvan te maak?  Ek dink daar is drie scenarios:

  • SCENARIO EEN – die VM is bloot ‘n liefdadigheidsorganisasie wat mense die lewe leer leef volgens integriteit en hoë waardes. Hulle beskerm bloot mekaar se eer en so aan. Dis wat die VM self vir jou sê en wat die ouens op die laer grade daarvan verstaan en wat hulle op hulle websites en goed propageer. Ja, hulle het ‘n bietjie snaaksighede en so aan, maar dis maar tradisie. As hier en en daar ‘n broer homself sleg gedra kan jy nie die hele organisasie afskiet nie – jy kan immers nie Christenskap afskiet oor een slegte Christen nie;
  • SCENARIO TWEE – die VM is glad nie so onskuldig nie. Dit het ‘n vreemde agtergrond en is vermeng met allerhande Egiptiese en paganistiese simboliek. Dit het allerhande godsdienstige ondertone, maar nie noodwendig Christelik nie. Ja, die hele atmosfeer is eintlik vreemd vir ons tipe Christenskap. Die geheime aard en bloed-ede en die hele “maak my dood as ek hierdie inligting bekendmaak” is teenstrydig met die oop aard van ware wysheid en die waarheid. Dis egter tipies van baie vroeëre vorme van godsdienste (gnostiek) wat inlywings in baie range verg om spesiale kennis te bekom. Dis onthutsend om te dink dat ‘n president van ‘n land sommige aande ‘n voorskoot aantrek en geheime rituele doen en dan sy lojaliteit sweer aan ‘n nog belangriker, geheime organisasie. Om “broers”  voor te trek by aanstellings vir werk bo ‘n meer bekwame of gekwalifiseerde “nie-broer”  is doodgewoon bedrieglik en immoreel en om te lieg vir ‘n “ broer”  in die hof (hopelik gebeur dit nooit) en so die skuldige te laat gaan en dalk die onskuldige te inkrimineer is meineed, krimineel en waardig ‘n swaar straf. Geen wonder nie dat baie kerke hulle lede verbied om VM te wees – maar baie lede se lojaliteit is natuurlik groter aan die VM as aan die kerk, want hulle behoort in elk geval;
  • SCENARIO DRIE – die VM is in sy gevorderde grade (en laer grade-lede sal dit nie weet nie) wel deeglik boos en buig uiteindelik voor ‘n sinkretistiese God, Jabulon en sulke dinge. Hoe verder jy met VM vorder hoe verder dryf jy van die ware God af. Dis ondenkbaar dat wedergebore Christene daaraan kan deel hê. Trouens, mense wat daaraan deelneem word wel gebind deur ‘n geestelike band en moet dit verbreek en bely.

Waar lê ek?  Wel, minstens by Scenario Twee.  Ek hou nie van die hele ding nie. Wat betref Scenario Drie is ek nie so seker nie, om die volgende redes:

  • Ek sukkel om aan groot komplotte te glo – jy weet, dat die Illuminati en die Vrymesselaars en die pous en sy Jesuïete die wêreld regeer en alle oorloë skep vir geldelike gewin, ens. Ek glo nie mense kan groot komplotte geheim hou nie – die media is te nuuskierig om hulle neuse oral in te druk en selfs te betaal vir ‘n sappige storie. Ek glo net nie aan die conspiracy ouens nie, dis eenvoudig te onwaarskynlik en die bewyse is niks anders nie as om die dots verkeerd te connect. Ek het elders daaroor geskryf.
  • Die kindertjies van Jesus is soms baie liggelowig. Hulle glo maklik iets en stuur dieselfde spekulasies die wêreld oor. Almal herhaal net dieselfde dinge, maar niks kan bewys word nie. Mens moet probeer soek na meer soliede feite. Ook op die websites teen die Vrymesselaars kry jy die Boervolk en ultra-regses en galbrakery en haat waarmee ek nie identifiseer nie. Niemand weet wat jy dáár kan glo nie. Dis net 'n kwessie van "glo my omdat ek so sê." 
  • Word die duiwel aanbid? Ek weet nie – ek twyfel eintlik. Die verwysing na Lucifer deur aarts-vrymesselaar Albert Pike in sy boek Morals & Dogma van die VM word uit konteks aangehaal asof hy pro-Lucifer is, maar hy is anti-Lucifer in net die volgende sinne – so dit beteken niks.  Wat betref die verwysing na Jabulon – vir hulle kritici ‘n woord saamgestel uit Jahweh, Baal en On sê die VM nee, dis net ‘n naam van ‘n sekere persoon van die ou tyd en in elk geval hulle gebruik dit nie en dit het niks met hulle te doen nie. Natuurlik ontken hulle alles, maar natuurlik sal hulle, né. Hulle is ook helemaal teen Baal se verering (ook ou Albert Pike), want immers is hulle sulke upstanding gelowiges, en so aan. Dis weereens 'n kwessie van "glo my net."

Hier is my bottom line:

  • Ek hou nie van die Vrymesselaars se tradisies, simboliek en modus operandi nie.  Dis vir my vreemd tot my verhouding met God.  Ek glo as jy met Christus wil vorder, moet jy die craft bedank. Klaar.
  • Ek weet nie van enige duiwel-aanbidding nie, maar sou sê, soos met baie dinge, dat enige-een wat betrokke was by die Vrymesselary enige sonde moet bely wat in onkunde gepleeg is, die Bose moet afsweer in  Jesus Naam en sy houvasse verbreek, vergiffenis moet ontvang en aangaan in vryheid. Dit kan nie kwaad doen nie. Mens hoef dit net een keer opreg en gelowig te doen. Moenie hierby vashaak nie. As daar snaakse dinge in jou lewe gebeur, moet jy egter ondersoek laat instel, hoor.

 

14570396?profile=original

Verdere opsies vanaf www.jimileroux.com

  • Skryf in op ons gratis daaglikse oordenkings, wat daagliks deur duisende gelees word, regoor die wêreld. Teken te enige tyd weer af. Kliek hier.
  • Kyk deur ons vele kleurvolle kursusse om jou geestelike lewe te verryk. Leer hoe om geestelik te lewe, te bid, die Bybel te lees, Jesus te verstaan of kyk na ons huwelikskursus, man-kursus of leierskap-programme! Kliek hier.
  • Wonder jy oor geestelike dinge? Lees ons geestelike vrae en antwoorde! Kliek hier.
  • Wil jy meer lees oor wie ons is en wat ons doen? Kliek hier.
  • Skryf gerus aan ons met jou vraag, gebedsversoek of kommentaar! Gebruik die kontakvorm op hierdie bladsy: Kliek hier.

 

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Replies are closed for this discussion.