Antwoord op... WAAR VIND EK 'N MENTOR

VRAAG:

Jy skryf oor mentorskap, maar waar vind ek 'n mentor - ek het 'n groot behoefte daaraan in my werk en geestelike lewe?

ANTWOORD:

Jy vra inderdaad ‘n moeilike vraag. Ons het mentors nodig, maar ons samelewing het van ons individualiste gemaak – in die verlede het jy veral “indiensopleiding” gehad (gewoonlik in die familiesaak) en was pa, oupa, ooms en ander leiers outomaties die mentors. Alle leer was in verhouding!

My opinie is dat ons mentors meer doelbewus moet soek en vind. Dit kan op baie maniere gebeur:

  • Ons kan van ons pa (ooms, ouer broers, ens.) leer/onthou hoe hy dinge benader het en wat hy gesê het – dis die natuurlike vertrekpunt
  • Ons kan “modelle” vind – m.a.w. mense wat in ons veld (of aanverwant, of ander) dinge gedoen het en ons kan bv. oor hulle lees en probeer nadoen
  • Ons kan geestelike mentors “aanvaar” – ek beskou bv. nog steeds vir (vorige geestelike leiers) as mentors – hulle het elk spesifieke dinge vir my geleer. Ek is nie tans met hulle in ‘n gereelde verhouding nie, maar ek het al vir hulle duidelik gemaak dat ek hulle as mentors beskou. Ideaal kan ons op ‘n gereelde basis by ‘n geestelike mentor gaan sit (bv. maandeliks) om ons geestelike lewe en lewe te bespreek. Mens moet 'n geestelike leier vra of jy vir 'n jaar of wat een maal per maand by hulle kan sit vir een uur (maar nie alle predilkante verstaan wat jy bedoel nie). As hulle nie die gesprek kan stuur nie (dis nie deel van hulle opleiding nie), kan jy die tyd gebruik om sinvolle vrae te vra en saam te bid. Hou STRENG by die tyd en laat hulle altyd met ‘n klein geskenkie of 'n basiese bedrag. Dis soos dit werk!
  • Ons kan ook in ‘n kleingroep deel (ek dink dis die model wat tans werk) – bv. ‘n sakemanne groep
  • Meeste het wel mentors gehad as jongeling in hulle bedryf (bestuurders, base en hoofde) en kon by hulle leer, baie keer hoe om dit nie te doen nie! 
  • Ons kan letterlik by mense in ons veld gaan aanklop en vra vir hulp – 'n koffie-afspraak maak en sê: Ek sien jou as iemand wat hierdie bedryf ken. Kan ek jou advies vra oor ‘n paar dinge? Weereens: wees tydig en gee 'n geskenkie.
  • Ek dink mentorskap is vandag grootliks deur boeke en YouTube vervang, maar laat ons dit gebruik! Daar is fantastiese opleiding op die internet. Skakel in by portuurgroepe en neem deel.
  • Ons kan ook ‘n mentor wees – iemand anders help uit wat ons geleer het. Dit help ons om sin te maak van wat ons self op die moeilike manier geleer het

Ja – ek dink dis meer ingewikkeld (soos als) as in die verlede. Maar die behoefte bly en ons moet dalk nou meer intensioneel te werk gaan om mentorskap en community te ontwikkel!

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –