Antwoord op... WAS JESUS RYK?

Vraag:

Hoe kan ons sê dat Jesus arm was - het die Magi (die wyse manne) nie vir Hom o.a. goud gebring nie?  Onthou dat baie godsmanne soos Abraham, Dawid e.a. baie ryk was.  Daar is tog aanduidings dat Jesus-hulle glad nie so arm was nie.

Antwoord:

Ek weet dat daar ‘n siening is (dalk ‘n hoop!) dat Jesus-hulle dalk ryk was (met verse soos die), met die gedagte dat ons dan ook na rykdom kan streef.  Daarmee saam dan die gedagte dat Abraham e.a. ryk was, ens.  oënskynlik ook van Jesus se vriende (Marta, Maria, Lasarus). Dit is problematies om die volgende redes:

  • Dit lyk tog asof Jesus-hulle selfs in hulle konteks relatief arm was.  Ons sien bv. dat hulle vakmanne was, en dat sy ouers die offer van arm mense, nie ryk mense nie, bring by sy toewyding.  Ook die omstandighede van sy geboorte dui nie op rykdom nie.  Hy verlaat sy ouerhuis en leef dan oënskynlik in 'n mate van vrywillige armoede.  Ons sien bv. dat Hy nie eers 'n kopkussing het nie (Mat 8:20) en dat Hy afhanklik is van ander se ondersteuning (Luk 8:3). Toe hulle die tempelbelasting moet betaal, laat Hy hulle 'n vis vang daarvoor (Mat 17:27).  Daar is egter ook nie sprake van hongersnood of nood nie - daar was 'n beurs vir hulle uitgawes, wat Judas dra.  Die gevolgtrekking - nie ryk nie, maar ook nie behoeftig nie.  God het vir Hom gesorg, soos Hy ook ander geleer het;
  • Aangesien rykdom so skaars was, sou dit beslis iewers geblyk het dat Jesus-hulle uit ‘n vername familie gekom het (dit was immers wat verwag was van die Messias).  SY verwerping het juis gekom omdat Hy NIE aan die verwagtings voldoen het nie;
  • Rykdom word in die Skrif veroordeel omdat hulle ekonomie baie klein was en almal feitlik arm.  Die wat werklik ryk was (net die regeerders, hulle tussengangers (amptenare), die grootste handelaars en groot boere in goeie jare) het dit dikwels bekom (veral die eerstes) deur swaar belasting, afpersing, korrupsie, ens.  Daar was ‘n hele sisteem van contacts wat betaal moes word.  Dit het daarop neergekom dat jy net ryk kon word ten koste van iemand anders.  Rykes was dus ook wreed of skelm.  Rykes was ook selfsugtig, want hulle lewe was in groepe (ons individualistiese kultuur is maar eers ‘n 100 jaar oud of minder), en om as individu ryk te word was om die groep se behoeftes of belange te ignoreer.  Daarom het rykes in die Bybel meestal ‘n slegte beeld. Ons kan bv. ook dink aan die plekke waar Jakobus die ryk mense nogal baie skerp aanspreek : komaan julle rykes, huil en ween…  Die vroeë Christene was ook gewoonlik uit die arm geledere getrek – dink ook aan Paulus in 1 Kor 1 aan die einde, Maria se gebed oor die armes en rykes, ens.
  • Jesus gaan nogal voor met die veroordeling van rykdom – as ons dink aan:
    • Waar Hy sê dat ons NIE skatte op aarde bymekaar moet maak nie - PUNT
    • Waar Hy sê dat die ryk jong man eerder alles moet verkoop en Hom volg
    • Waar Hy sê dat ‘n ryk man beswaarlik gered kan word – ‘n kameel gaan eerder deur die oog van ‘n naald (weliswaar ‘n metafoor, maar nie die “klein deurtjie in die poort”-beeld nie)
    • Waar Hy die hele bestaande orde op sy kop draai – bv. deur die armes, treurendes, dienaars, ens. uit te sonder vir seën – oor deur sy gedrag teenoor al die underdogs (vroue, siekes, sondaars, ens.)
    • Waar Hy sê dat ons moet kies om God of Mammon (=die Aramese woord vir geld) te dien
    • Waar Hy ons in die Ons Vader slegs leer om te bid vir ons daaglikse brood
    • Waar Hy waarsku dat die saad deur die rykdom van die wêreld verstik kan word  
  • Om spekulatiewe of buitebybelse gegewens in te bring teen duidelike Skrifgetuienes soos die bg. is so ‘n bietjie soos die muggie en die balk.  Daar word tradisioneel aanvaar (dus ‘n aanname) dat die geskenke van die Magi (niemand weet hoeveel die goud was nie - en die ander was nie noodwendig baie werd nie, dit bly 'n spekulasie) die gesinnetjie gehelp het om in Egipte te kom (waar geleerdes dan selfs dink dat Josef in Alexandrië, waar baie Jode was, timmerwerk gedoen het).  Die indruk is egter dat toe hulle terugkeer hulle maar weer armerig was.  Mens sou wel kon spekuleer dat Jesus die huis kon verlaat (Hy was immers die hoof van die huis teen daardie tyd) omdat daar genoeg voorsiening was (a.g.v. die Magi), maar die mense van Nasaret sien neer op Hom as profeet (en jaag Hom weg), wat nie sou gebeur as hulle ‘n prominente familie was van so ‘n baie klein dorpie nie – dit was dus eerder dat sy jonger broers die familiesaak kon oorneem.  Ook sou Jesus nie as timmerman gewerk het as hulle baie ryk was nie – ander moontlikhede was oop, bv. om te leer (terwyl die Fariseërs sê dat Hy nie geleerdheid gehad het nie);
  • Oor die prosperity as ‘n leer (weet nie of dit ter sprake is nie) het ek min positiewe dinge te sê – ‘n uiters onlangse Amerikaanse beskouing teenstrydig met die hele Bybelse leer (gebore alleen uit die Westerse materialisme en consumerism) en “werk” dan ook glad nie uit in die praktyk nie, behalwe vir die paar skelms heel bo met hul eie vliegtuie (jammer – dis nog my opinie sag uitgedruk, ek is oortuig Jesus sou met sy sweep in hulle handelshuis-tempels ingelê het).  Dis die evangelie op sy kop gedraai  - alles oor myself.
  • Ten spyte van die bg. het die Skrif ook ‘n positiewe beskouing oor geld en dit blyk dat die probleem nie geld as sulks is nie – maar die jaag na geld, geldgierigheid, of die afhanklikheid van geld (geld as afgod).  Uiteraard is daar Christene wat ryk is (ons is almal reeds baie ryk teenoor hulle standaarde) en ook baie ryk en dis nie verkeerd nie.  Let wel dat ons ook nie sê Christene moet noodwendig arm wees nie (soos sommige doen).  Rykdom is inderdaad die seën van die Here.  Die probleem kom egter in om
    • Die seën van die Here NET as aardse rykdom te sien – in die Bybel is dit eintlik meer ‘n lewe met God en die oorvloed van sy voorsiening en sorg (soos Hy sorg vir die lelies en die voëls); van guns en van vrede (SHALOM) en oorvloed in die hart;
    • te sê dat almal – in ryk Amerika en in arm Afrika ryk behoort te wees – as ‘n geloofsaak (m.a.w. as jy nie welvaart beleef nie, skort iets met jou geloof).  So word baie arm Afrika-mense deur ryk Amerikaners uitgebuit;
    • God (die beginsel van saai en maai) te probeer manipuleer om ryk te word/’n formule daarvan te maak: deur bv. soveel te saai (en dit dan te bely as saad) en dan te verwag om 3x. 7x ens terug te ontvang.  Dit  vind ons nie in die Bybel nie (ons sien nie dat enige-een so iets doen nie), en dit werk dus ook nie in die praktyk nie.

Ten slotte:

  • Ryk en arm hou eerstens verband met gewone natuurlike faktore,
  • rykdom moet in alle geval as ‘n seën en genade gesien word,
  • rykdom kan ons egter ook van God weghou - ons moet versigtig wees daarmee,
  • God kan radikaal vertrou word met al ons behoeftes,
  • ons moet ‘n lewe leef van saai en daarvan vergeet - die maai sal daar wees, dis ‘n belofte, maar die Here sal daaroor besluit.

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –