Vraag:
Waarom sê jy dit is 'n geheim dat almal nie gesond word nie. Wil God dan nie almal genees (as ons vir genesing bid) nie?
Antwoord:
Die probleem is inderdaad dat nie almal op ons gebed (selfs van die mees gesalfde en kragtige voorbidder) gesond word nie. Ja, ons ervaring is dat sommige mense wat die meeste geloof het, of die Here vir jare getrou dien, nie gesond word nie, en dan kom daar sommer iemand van die straat af in en ontvang genesing. Daar is dus ‘n geheim rondom geloof en genesing, wat ons nie heeltemal verstaan nie. Dit is waarna ek verwys. Dis net ‘n feit.
Die vraag is of dit nie die Here se wil is dat ons almal genees word nie? Is Hy dan nie ‘n goeie God, wat die beste vir almal wil hê nie? Die antwoord is ja, maar dit is net ‘n gekwalifiseerde ja. Die populêre faith-perspektief sê eenvoudig ja, God wil almal gesond maak en as jy nie gesond word nie, is die rede jou ongeloof. Hulle kan egter nie noodwendig mense help om by ‘n genesingsgeloof uit te kom nie (en die leiers is self maar siek, en skei hul vroue!) Ek dink die beter manier om dit te verstaan is om ‘n onderskeiding te tref in God se wil:
- In God se volmaakte wil wil Hy dat elkeen op die beste moontlik plek kom – in volmaaktheid, in volle vervulling van sy potensiaal, op die plek wat God vir hom gedroom het. Ja, dit is soos God is – en as ons Hom die kans gee, sal Hy ons ook daar bring, dit is sy belofte (Jud 1:24);
- In God se toelatende wil verdra Hy egter die sonde wat nog op die aarde heers. Die vraag of God dan nie vir sy kinders genees wil sien nie, is dieselfde vraag as: wil God dan nie vir sy kinders gelukkig sien nie, in ‘n goeie werk sien nie, in gesonde verhoudings sien nie, met heel gesinne sien nie, met materiële voorspoed sien nie, ens. En tog sien ons die kinders van Jesus wat ook ongelukkig is, wat hul werk verloor, wat twis in hul huwelike beleef, ja wat egskeiding beleef, of geliefdes verloor, of met hul geroeste karre aansukkel. Dan praat ons nie eers van die miljoene kinders van God in Afrika wat nie eers genoeg het om van te eet nie. Dit ten spyte van hul opregte gebed en die inspanning van al hul geloof. Om vir iemand te sê jy is honger, arm, sieklik, geskei ens. omdat jy nie reg geglo het nie, is bloot onwaar en wreed. Baie van daardie dinge word nie op gebed reggemaak nie, maar deur gehoorsaamheid reg gewerk. Ons het ook 'n verantwoordelikheid. Ons moet bid EN werk en beide is nodig. Soms wil ons dinge regbid wat ons reg moes gewerk het.
Die feit is dat ons met hierdie dinge saamleef omdat ons nog op die aarde is. Op die aarde sal ons hierdie dinge (die “mot en roes”) ken. Ja, ons veg daarteen en ja, geloof is betrokke. Ja, ons leef reeds in oorwinning, maar solank ons op hierdie aarde is, sal ons ook die sonde en sy gevolge ken – en een daarvan is siekte en die dood. God het bepaal dat hierdie bedeling so sal wees. In die toekomstige bedeling maak Hy ‘n einde aan al hierdie dinge – ons wil egter die hemel nou al hê! So onderskei ons nie in watter bedeling ons leef nie. Ons stry huidiglik nog die stryd – die finale oorwinning lê nog voor. Ons sien dit ook met Jesus – Hy kies een by die Bad van Bethesda en een blinde by die tempel om te genees (sonder dat hulle eers vra) en die res laat Hy. Wil Hy nie hê hulle moet almal gesond word nie?
Ons gaan dus aan en bid vir mense – soos ons vir alle probleme en situasies bid. Ons beleef soms genesings en soms ook geen genesings nie, net soos met die ander dinge ook. Dinge is nie volmaak in ons lewe nie. Maar ons is op pad. En God is steeds met ons.
Replies