Ek het die stuk oor die hel gelees en vind dit nogal ontstellend. My opmerkings is soos volg:
• Die Skrif gee nie vir ons hierdie tipe inligting oor die hel nie. In die Skrif verwys die Ou Testament nie na die hel nie, maar na sjeool (hades/die doderyk) as ‘n plek waar alle dooies verkeer. Die Nuwe Testament verwys na die hel (gehenna) maar gebruik verskillende metafore om dit te beskryf, nl. die buitenste duisternis, die plek waar die vuur nie ophou brand nie en die wurm nie ophou verteer nie (verwysende na die vullishoop buite Jerusalem), of die poel van vuur (Openbaring). Ook die lg. pas in ‘n boek in wat vol beelde is, en is in die eerste plek ‘n simbool. Waar dit oor God en die ewige dinge gaan, moet ons na metafore, beelde en simbole oorslaan;
• Sommige mense lees volgens hulle hermeneutiek so ver enigsens moontlik alles letterlik, maar dis duidelik nie soos dit geskryf is nie, en lei tot ‘n interpretasie wat minder God se Woord, en meer menslike woord is – alhoewel hulle dit andersom bedoel;
• Die Skrif gee vir ons met ‘n rede min inligting oor die hel, want die sentrale boodskap is nie die hel nie, maar die goeie nuus van redding. Ons skuif die fokus soms na die onbelangriker dele.
• Net soos met die hemel, het daar ‘n tradisie van geskrifte ontstaan wat die menslike nuuskierigheid bevredig oor hoe dit eintlik is. Dit kom reeds uit die vroegste tyd (bv. apokriewe apokalipse), die Middeleeue (bv. Dante se Divina Comedia), en ook in ons tyd (bv. Intra Muros, Mary Baxter, Choo Thomas, en ook hierdie van die 7 Columbian Youths). Ons kan dadelik sê dat dit as menslike geskrifte nie op dieselfde vlak as die Bybel staan nie, en ons hoef nie Bybelse gegewens met menslike gegewens aan te vul nie;
• Mens weet nie of die gebeure wat beskryf word werklik gebeur het, en of dit ‘n psigologiese verklaring het nie. In die godsdienswêreld is verskynsels en manifestasies redelik algemeen en dis nie te sê dat alles van God af is nie. Dit is dikwels psigologies van aard – ook gesamentlike visioene. Daarmee sê jy nie dat dit nie goed bedoel is nie;
• Ek het ‘n probleem met die beskrywing en toonaard van die visioene. Daar is ‘n morbiede belangstelling in die gruwelike detail, en hoe skokkender hoe beter. So anders as die Bybel, wat nugter, verhewe, waardig en gebalanseerd oor dieselfde onderwerpe deel;
• Ek het ‘n probleem met die teologie van die visioene. Dit blyk dat niemand van ons gered kan word nie. Ek lei uit die visioene af dat selfs diegene wat die Here aangeneem het en teruggeval het op die oomblik van hulle dood, hel toe gaan. In die breër konteks van die Woord en Jesus se kruisdood beteken dit egter dat ons terug is by werke. Geen genade nie. Die waarheid is dat God ons red van ons pogings om onsself te red, en ook gered te hou, deur ‘n heilige lewe. Alhoewel God vir ons ‘n heilige lewe bedoel, is dit nie a.g.v. daarvan dat ons gered word nie;
• Ek het ‘n probleem met die Skrifgebruik van die vertelling oor die visioen. Dit is besonder uit-verband-uit gebruik en Skrifte word ingebring wat nie met die tema te doen het.
Ek glo nie dat hierdie ‘n openbaring van God af vir ons is nie.
You need to be a member of jimileroux.com to add comments!
Replies