Wat sê die Bybel oor die dood en die hiernamaals?
Hieronder net ‘n klein blik op ‘n groot en moeilike saak:
Soos met verskeie temas in die Bybel is daar ‘n ontwikkelende openbaring oor die dood en die lewe hierna. Ek bedoel daarmee dat die Ou Testament se begrip hiervan vaag is. By Jesus leer ons meer daaroor en in die res van die Nuwe Testament word dit verder ingekleur. Ons moet dus die hele Bybelboodskap oor die dood en die hiernamaals raaksien – nie net een vers vat nie. Ek som dit kortliks op (ons vraag fokus op wat gebeur met die dood en hoe die Bybel die hiernamaals beskryf – dit gaan nie nou oor die betekenis van die dood of sulke teologiese goete nie):
DIE DOOD IN DIE OU TESTAMENT: SHEOL
Die Jode het eers net ‘n konsep gehad van die “doderyk” (Hebreeus: Sheol; Grieks: Hades) waarheen almal gaan – goed en sleg. Dit was ‘n plek diep in die aarde waarin die dode voortgeleef het, maar die doderyk was ‘n donker, alleen en kragtelose plek en die mense dwaal daar soos skimme – die absolute teenstelling van ‘n kragtige, ryk, vol, egte LEWE. Sien bv. Job 26:5, Spr 21:16, Jes 14:9, Jes 38:18-19 – lees in die Ou Vertaling en let op die woord “skimme” (refa’im). Vir die wat moeg is, is die “graf” (‘n sinoniem vir die sheol) ‘n kans om te rus (Job 3:17-19). Nogtans is Sheol nie ‘n plek waar jy wil wees nie en reeds in die Ou Testament is gehoop dat God hulle tog uit die doderyk sou verlos en na Hom toe sal neem (bv. Job 19:25-27; Ps 49:16). Aan die einde van die Ou Testamentiese periode kom Daniël en bevestig dat daar aan die einde ‘n opstanding sal wees uit die dode (Dan 12:2-3, sien ook v13).
TUSSEN DIE TESTAMENTE
In die tyd na die Ou Testament ontwikkel die gedagtes verder en kom die konsepte van ‘n hemel en hel meer na vore. Daar is begin dink aan Sheol as ‘n plek met twee afdelings, nl. ‘n straf vir die onregverdiges en ‘n salige bestaan vir die regverdiges. Jesus sluit daarby aan en bevestig dit:
DIE DOOD IN DIE NUWE TESTAMENT: HADES, GEHENNA
Jesus bevestig dat die dood ons in een van twee plekke gaan uitbring: of in die doderyk, of in ‘n geseënde plek by God, wat genoem word die “Boesem van Abraham” (Luk 16:23) of die “paradys” (Luk 23:43). Gelowiges moet vir seker weet dat, as hulle sterf, hulle “by Christus” sal wees – 2Kor 5:6-8, Fil 1:23, Op 6:9. In beide gevalle is ons heeltemal bewus van waar ons is en in beide gevalle is dit slegs ‘n tydelike toestand. Nogtans sal ons “uit die liggaam uitwoon” (2 Kor 5:8-9) op een of ander geestelike manier – liggaamloos, m.a.w. alhoewel ons nie presies weet wat dit beteken nie.
1) Die paradys en verder
Die Nuwe Testament leer ons dat daar ‘n Opstandingsdag sal wees (1 Kor 15) – die laaste dag, as die trompet blaas en Jesus weer kom. Dan sal alle dooies lewend word en ons wat leef sal in ‘n oogwenk verander word. Ons sal op daardie moment weer ons liggaam ontvang, maar dit sal ‘n verheerlikte, geestelike liggaam wees, wat die beeld van die hemelse Christus sal vertoon. In hierdie geestelike vorm sal ons bly, soos die engele. Die geestelike liggaam het oënskynlik geen fisieke funksies oor nie, want Jesus sê ons sal nie daar in die huwelik uitgee en trou nie (Mat 22:30). Op daardie dag sal die Oordeel plaasvind en sal God die regverdiges beloon en die ongeregtigheid straf. Dan sal die ewigheid intree en sal ons by God wees vir ewig. Die boek Openbaring skets vir ons in beeldende terme iets van die heerlikheid van die nuwe hemel en aarde, en die nuwe Jerusalem, waarop ons nie nou ingaan nie.
2) Gehenna…
Die Nuwe Testament stel ons egter ook bekend aan Gehenna, die hel (bv. Mat 5:22, 5:29, 10:28). Die woord is oorspronklik die woord vir Jerusalem se vullishoop (die Dal van Hinnon) – die onreinste plek in Jerusalem, ‘n plek met ‘n stank van vullis wat verbrand word en ontbinding wat plaasvind (“waar die wurm nooit sterf en die vlam nooit geblus word nie” - Mark 9:43). Daar het melaatses en ander onrein mense gewoon wat nie in die stad mog gekom het nie. Dit was ook die plek waar die Israeliete op ‘n tyd eeue voor dit ‘n tempel vir Molog gehad het en hulle kinders daar lewend verbrand het. Al hierdie konnotasies is deel van die woord Gehenna as Jesus en ander dit gebruik as beeld van die plek verste van God af. ‘n Ander metafoor wat Hy gebruik vir daardie straf en uiterste verwerping is die “buitenste duisternis”, waar ‘n “geween en gekners van tande” sal wees (bv. Mat 8:12, 22:13, 25:30).
Ons moet dit duidelik stel dat die Bybel nie vir ons oor hierdie dinge reguit en presiese beskrywings gee nie. Die Woord stel net die feite dat daar sulke plekke is; waarsku ons teen die een en lok ons na die ander. Omdat dit oor ewige en onverstaanbare dinge gaan, is dit vir ons verstand te groot (soos baie van God se geheime) en wat ons kry is meestal beelde, vergelykings, simbole, metafore. Maar ons weet dit is daar.
WAT SAL MET ONS GEBEUR AS ONS STERF?
Ja, die Bybel spel dit nie uit in ‘n netjiese volgorde nie. Maar ons kan die stukkies inligting bymekaar sit soos ‘n legkaart, en alhoewel baie stukkies kortkom kan ons wel die volgende prent uitmaak:
- As ons sterf, sterf ons in Hom, sonder vrees. Volgens Jesus se verhaal van Lasarus kom die engele en neem ons weg.
- Ons kom by HOM uit – ons Liefdevolle Vader. Daar is baie verhale van mense wat naby-doodse-ervarings gehad het en sê dat hulle God beleef het as ‘n wit lig wat suiwer liefde, warmte en aanvaarding uitstraal. Sommige het gesê hulle het Jesus ontmoet. Daar was ook familielede. Ook kinders van die Here vertel van visioene van die hemel; en van wonderlike dinge wat hulle beleef het. Dit is as gelowiges vir ons moeilik om sulke verhale te beoordeel (en laat ons maar eerder by die Woord bly), maar ja, ons weet die Woord sê dat God lig is, en dat in Hom is geen duisternis is nie (1 Joh 1:5).
- Om by God te wees is verreweg die beste. Om te sterwe is wins (Fil 1:21-23). By Hom is geen, geen, geen bekommernis of moeite nie, daar is volkome vrede, rus, versorging, krag en energie. God se teenwoordigheid sal ons vir ewig vervul met vreugde en vrede. Elkeen wat al ‘n voorsmaak van die hemel gekry het, wil nooit, ooit weer terugkom nie. Hulle smeek om te bly, maar net God bepaal wanneer dit ons tyd is. Ons het ‘n werk om te doen.
Daar is nie veel meer wat mens hieroor kan sê nie, of ons is in suiwer spekulasie. Ons weet wel dit: ons vrees nie die dood nie. Christus het die dood oorwin en wag vir ons aan die ander kant. Dood, waar is jou oorwinning? Doderyk, waar is jou angel? (1 Kor 15:55).
Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. Ek is in 'n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe.Filippense 1:20b-24
Replies