Eenmaal gered, altyd gered (2)

9636272695?profile=RESIZE_400x

NOG 'N VRAAG IN DIE VERBAND:

Hebreërs 6 en veral vers 6 [die afvallig word deel] smokkel met my kop.

Heb 6:4  Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, 
Heb 6:5  en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, 
Heb 6:6  en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

Help asseblief!

EK ANTWOORD HIERDIE KEER SOOS VOLG:

  • Daar is ‘n paar plekke in Hebreërs (bv. ook Heb 10:26-29) wat dit laat lyk asof gereddes weer verlore kan gaan. Ons moenie die moontlikheid heeltemal uitsluit (en dus gemaklik word met ons genade en gemaklik met sonde en sodoende afvallig word) nie. Ons weet te min van God se dinge en sulke gedeeltes is bedoel om Christene te waarsku, so kom ons laat ons waarsku!
  • Met dit gesê, vanuit Paulus en ook Jesus se lering kom die prentjie na vore dat ons saligheid nie in ons eie hande is nie. God red ons en hou ons ook gered. Anders sou ons geen geloofsekerheid gehad het nie, en sou ons enige dag weer verlore kon gaan, nadat ons sondig, en moet ons eintlik daagliks weer tot bekering kom, steeds sonder enige sekerheid!
  • So ‘n beskouing neem ook die sonde te ligtelik op, want as ons behoorlik na die sonde kyk, sien ons die verkeerde motiewe reeds in ons onbewuste (ons hele ekkigheid en vlees), sien ons sonde in ons gedagtes, woorde en dade, en sien ons ons vele versuime: waar ons moes liefgehad het, moes vergewe het, moes verder gewees het as waar ons is, ens. Nee, die sonde is pervasive en ons gaan nie hier sonder sonde eindig nie, tensy ons die grens lukraak trek rondom sekere sondes, soos sommige wel doen. Dus is almal verlore, en dis eintlik presies wat die Skrif sê.
  • Nee, God red ons en as Hy red is ons nie halfpad gered nie. Sou Hy ons halfpad los, is ons almal weer verlore. Ons glo dus dat die werk wat Hy in ons begin het, die wedergeboorte, ‘n volkome werk is. Dit neem ons reg deur na die einde toe. In daardie sin sê ons “eenmaal gered, altyd gered”, alhoewel dit nie so in Bybel voorkom nie.
  • Wat dan van die mens se bydrae en sy heilige lewe? Dis wel belangrik (eintlik essensieel), maar inbegrepe by God se werk. As ons harte deur die wedergeboorte verander is, WIL ons vir Hom leef, en WIL ons die sonde oorkom en WIL ons in heiligmaking groei. Die wat dus waarlik sy kinders is, sal noodwendig die vrug dra wat by die bekering pas, dit kan nie anders nie. Hulle is nou ‘n “goeie boom” wat goeie vrugte dra. Dis die werk van die Heilige Gees in ons. In daardie sin is dit ons volkome vrye wil, maar ook die werk van God in ons.
  • Wat dan van waarskuwings soos Heb. 6:4-8? Die beskrywing laat ons baie dink aan wat Jesus gesê het oor die saaier en die saad. Sommige saad lei wel tot ‘n bekering, maar dit groei nie, a.g.v. die klipbanke. Ander kom tot bekering, maar dra nie vrug nie, a.g.v. die dorings. Nie elke bekering is dus ‘n egte bekering nie. As dit wel ‘n egte bekering is, is die vrug daar, in veelvoud. Dis presies wat Hebreërs hier in vers 7-8 sê (en in vers 9 sê hy dat hy glo die lesers val nie in daardie kategorie nie!). Ons sê die beskrywing van vers 4-6 is die van ‘n persoon wat al daardie dinge BEGIN beleef het, en waar die inset nie gelei het tot verandering nie, maar tot weerstand. So een het “immuun” geraak teen die evangelie.
  • Wat Heb. 10 betref, word ‘n ernstige scenario geskets van iemand wat opsetlik sondig, wat die Seun verag, Sy bloed minag en die Gees van genade beledig. Dit dui eerder op iemand wat Christus opsetlik minag, soos wat wel in hul tyd en ook vandag gebeur. Hoe sal so een dan nog vra dat Christus hom red? So bly hy verlore.
  • Sommige koppel hierdie verse aan die “sonde teen die Heilige Gees”, of die “onvergeeflike sonde”, waarna Jesus verwys. As die Heilige Gees van ‘n mens sou onttrek, sou so een nie meer oortuiging van sonde beleef nie, geen behoefte meer aan God hê nie, geen belydenis meer doen nie, geen belangstelling in geestelike groei hê nie. Hy sal gelukkig wees sonder God, wat ‘n vreeslike toestand is om in te wees. Sonder om na God te wil draai, bly so een dus verlore. Andersom gesê, as iemand wel nog bely en bekeer, wel nog ‘n begeerte na God het, wel nog wil groei, dan is die Heilige Gees steeds werksaam en het ons nie dié sonde begaan nie. So bly ook die belofte waar dat ELKEEN wat glo, ELKEEN wat bely, wel vergiffenis en redding sal ontvang.

Die bg. leer ons om nie te vinnig iemand af te skryf nie. Al lyk dit of iemand afvallig is, weet ons nie wat vorentoe gaan gebeur nie. So een kan wel weer bely en genade vind. Ons taak is om mense aan te moedig na God toe, en te let dat ons self volhard op die pad. 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –