Vorige antwoord(e) op... GELOOF


VRAAG
Goeie More Ds. Jimi. Ek wil nog iets vra asb.  Ek verstaan nie die geloof van 'n mostersaad nie, om berge te versit.  As ek iets van die Here vra en nie die geloof het nie, gaan Hy dit dan nie vir my gee nie, omdat ek nie tenvolle glo ek gaan dit kry nie?  Is dit ons geloof wat bepaal wat God vir ons gee ? Hoe werk dit?  Dankie.

ANTWOORD
Dis 'n moeilike vraag wat jy vra… jy praat nou van wonderwerk-geloof.  Ek dink:

  • hierdie geloof is nie ‘n krag of menslike vermoë wat jy self moet opwerk nie – dis ‘n gawe van God (1Kt 12:8-9). Saligmakende geloof is iets anders – dis net om te vat wat Hy gee (Ef 2:8-9);
  • ons bid mos alles in die Here se wil (Mt 6:10) en moet vir sulke dinge eers sy wil onderskei voordat ons dit bid.  Kyk bv. hoe bid Paulus vir genesing (Hd 28:8): hy bid eers, en beveel dan genesing. Mense wat vandag vir siekes en wonders bid, bid ook eers vir God se wil en dan vir die saak. As die Here dan sê Hy gaan iets doen (soos ‘n berg versit) kan ons dit glo en laat gebeur
  • ons moet ook gebed losmaak van ‘n lysie van wat God moet doen vir ons – dis nie dit nie. Gebed is ‘n gesprek met God/kommunikasie/teenwoordigheid. Dit gaan ook in die eerste plek oor my verhouding met God.  In die Ons Vader leer die Here ons om eers te bid vir SY lof, koninkryk en wil, en agterna vir ons behoeftes (en dan net basiese behoeftes: vandag se brood, vergiffenis, beskerming)
  • die kwessie van die mostertsaad gaan nie oor groot geloof nie, maar oor klein geloof wat tot groot dinge kan lei. As ons al net so ‘n bietjie geloof het soos ‘n mostertsaad, kan berge al skuif. Dis nie te sê elke berg gaan skuif nie, maar dis al wat nodig is – dis die les.  Daardie bietjie geloof kom na vore in klein dinge soos: (i) Ek vra die Here, (ii) Ek vertrou die Here, (iii) Ek vra iemand om vir my te bid, (iv) Ek doen iets in geloof – sulke goed. Nie noodwendig in groot emosies en groot geloofsbevele nie. Nee.
  • geloof is ook nooit geloof in die krag van geloof nie, as jy verstaan wat ek bedoel. Geloof is vertroue op Iemand. En HY is ‘n Persoon met ‘n wil en ‘n besluit en HY is die Koning, die Here, wat besluit soos HY wil. Vertrou Hom blindelings, dit is geloof!

Weet jy, daarmee is nog min gesê en verseker nie al die Skrifverwysings aangespreek nie. Maar ek hoop dit help

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –