Langs die Pad Augustus 2021

9415384091?profile=RESIZE_710x

Hallo daar!

Dis middel Augustus en steeds baie koud. Laat ek bieg, ek is nou eenmaal nie 'n wintermens nie. Daar is 'n sekere behae in die gedagte van sop, 'n snoesige kombers en 'n warm vuur, maar die praktyk is ver nie so gesellig nie. Die praktyk dwing my om soggens in die wasem-koue te gaan draf, om vier lae klere in die huis te dra (ons huis is koud en elektrisiteit is al weer duurder) en heeltyd op die termometer te kyk en te sê, "Sjoe, dis 16 grade hierbinne". Ek weet, soos 'n regte oumens... Ons het ook nie 'n kaggel nie, wel 'n gasverwarmer, en ons drink wel sop en sit onder die komberse... Binne enkele weke sal die seisoen begin draai!

Nuwe skermprent

Ek het weer 'n skermprent gemaak, en hierdie keer is dit regtig mooi! Ek voel altyd ingenome met my pogings (soms verkeerdelik so), maar hierdie een gaan ek lank op my skerm hou. Dit lyk soos hierbo - pragtig, né? Kliek hier om dit af te laai en op jou rekenaar, tablet of selfoon te installeer.

Zoom-klasse

Ons het tans Maandag-aande 20:00 Zoom-klasse. Ons werk deur ons kursus Geestelike Vorming. Die videos en klasse is gratis, maar die notas moet bestel word. Sluit gerus aan, ons gesels lekker in die klas oor geestelike dinge en help mekaar. Kliek hier vir meer info.

Dan net die volgende twee dinge:

  • Ek het oor die naweek vir jou 'n "advertensie" gestuur oor ons oordenkings, en sal dit een keer hierdie week herhaal. Ek sal dit waardeer as jy dit aan diegene wat moontlik DAAGLIKSE STILTE sou wou ontvang, kan e-pos. Ons maak ons bediening op allerhande maniere bekend, en jou hulp sal ons baie help. Baie dankie!
  • Baie van ons lesers stuur ons oordenkings weer verder aan, sommige op 'n hele lys af. Ons waardeer dit baie - dankie, daarvoor - maar dit gebeur soms dat so 'n verdere ontvanger op die skakel onderaan elke dagstukkie afteken. So teken hy egter die eerste ontvanger af. Stuur DAAGLIKSE STILTE asb. veral na waar dit welkom sou wees - keur jou lesers. Dis natuurlik die beste dat elkeen op sy eie naam ingeteken is, en dit mag help as jy die bg. advertensie vir hulle aanstuur. 

Wees asseblief veilig in hierdie pandemie, maar wees ook verseker dat die Here naby is, ons altyd-beskikbare Bron van Krag. Baie seën en dankie vir die wonderlike voorreg wat ons het om saam met jou die Here se pad te stap!

Jimi en Maryke

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Replies are closed for this discussion.