Langs die Pad Junie 2021

9106300856?profile=RESIZE_710x

Hallo daar!

Kan jy glo, dis al Junie en ons baklei steeds teen CoVid - nou amptelik in die derde golf. Dit maak soveel emosies los. Ek kan nie wag vir my inenting nie, maar dit gaan so stadig! En intussen gaan die lewe aan... Ek fokus hierdie keer op die volgende opwindende nuus:

Geestelike Vorming: "Skool vir Dissipels"

Dit lê swaar op my hart om meer by dissipelskap en dissipelering betrokke te wees, en ek wil dit doen deur ons bestaande kursus, "Geestelike Vorming". Die kursus dek al die wesenlike aspekte van 'n verhouding met God. (Hieronder is 'n skakel na die volledige inhoud van Geestelike Vorming.) Die kursus is lank, maar ons sal dit in korter blokke aanbied in die loop van 2021 en 2022. Ek voel hierdie inhoud is wat nodig is - die basiese praktyke - om vandag 'n dissipel van Jesus Christus te wees.

Ek wil die kursus egter as 'n "skool" aanbied deur videos met agtergrond-inligting daarby te voeg en die tema dan in 'n weeklikse Zoom-klas te bespreek. Baie van die waarde van so 'n klas lê in die vra van vrae en die bespreking daarvan vir die praktyk. As jy reeds Geestelike Vorming se notas het, kan jy besluit om net die videos te kyk en/of die klasbesprekings by te woon. As jy die notas wil bekom, kan jy ons gewone bydrae daarvoor betaal, maar die eerste vyf weke se notas is in elk geval gratis. Enige-een kan egter ook die program heeltemal gratis volg deur net die videos te kyk (dit dek min of meer dieselfde inhoud as die notas) en die klas by te woon. Ons eerste klas sal Maandag-aand 5 Julie om 20:00 wees en ons sal in die vorige week reeds die notas en videos beskikbaar stel. Die belangrikste nou is om solank by die Facebook-groep aan te sluit waar ons al die reëlings, videos, notas ens. sal plaas. Wat jy verder daarmee maak is eintlik jou eie saak. Jy kan byvoorbeeld ook agterna, op jou eie tyd, deur die notas en videos werk.

Al die skakels is hier:

  • vir 'n 5-minute video waarin ek dit dalk beter verduidelik, kliek hier
  • vir meer inligting oor wat Geestelike Vorming behelskliek hier
  • vir die Facebook-groep waarin ons die inligting gaan plaas, kliek hier

Skakel gerus met my as jy enige ander vrae het.

Let ook nog op:

1. As jy nie Facebook het nie, laat weet my jou e-pos adres, dan sluit ek jou per e-pos in.

2. Moenie dat die gedagte aan 'n Zoom-klas jou laat twyfel nie. Dis doodmaklik en vereis geen spesifieke deelname van jou kant af nie. Jy hoef nie jou gesig te vertoon nie (die helfte doen nie) en jy hoef ook nie saam te praat nie. Jy kan doodgewoon net inluister. Ek sal later die Zoom-instruksies deurgee. Ons moet almal maar inspring met Zoom (ons gaan dit vorentoe baie gebruik), maar soos gesê is die klasse in elk geval vrywillig. Jy kan ook net na die videos kyk of die notas deurwerk. Dis jou keuse.

Hoe ook al, ek hoop om jou op die groeplys te sien! Nooi gerus ook jou vriende of familie.

Doen asseblief jou bes om veilig te bly! Ons is darem al op 'n beter plek as vroeër - daar is wel lig in die tonnel. En daar is ook altyd soveel om voor dankbaar te wees.  

Mag die Here jou ryklik seën!

Jimi

 

 

 

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –