Langs die Pad September 2021

9573404663?profile=RESIZE_400xO, die jaar spoed voort! By ons in die Kaap is die wind steeds koud, want September is eintlik nog maar die laaste stukkie winter, nie regtig al lente nie. In elk geval, ek het hierdie maand die volgende aankondigings:

"Jesus Leefstyl"
Ons bestaande vlagskip-kursus, In die Tempel (oor die simboliek van die tempel - jy kan dit steeds bestel) maak einde van die maand klaar. In Oktober begin ons kort nuwe kursus, Jesus Leefstyl. Dis nie 'n geestelike kursus nie, of ten minste nie geestelik op die gewone manier nie. As gesertifiseerde life coach maak ek soms lewensbegeleidings-kursusse, en hierdie een is so een. Ons kyk na die mense in Bybelse tye se leefstyl, bv. na hulle eet, drink, loop, slaap en doen, en maak dan gevolgtrekkings daaroor vir onsself. Natuurlik het hulle nie veel keuses gehad in die proses nie, maar die feit is dat hul dieet, en hele leefstyl, veel meer natuurlik, organies en gesond was (in baie opsigte) as ons s'n. So kom ons uit by wat ek noem 'n "Jesus-Dieet" of 'n "Jesus-Leefstyl". Onthou, ons gesondheid IS 'n geestelike saak, en dalk is hierdie kursus jou antwoord. Al ons vennote sal vanaf 5 Okt hierdie kursus ontvang (tensy hul iets anders gespesifiseer het). Jy kan dit ook ontvang! Kliek hier vir meer besonderhede oor Jesus Leefstyl.

GV: YouTube-kanaal
Soos jy dalk weet, het ons tans 'n Geestelike Vorming "Skool" aan die gang. Dit behels die notas vir ons kursus Geestelike Vorming (vir die wat dit bestel), asook 'n weeklikse video en 'n aanlyn-klas. Op die oomblik gaan dit baie goed, skakel gerus in! As jy by hierdie Facebook-groep aansluit sal jy die weeklikse inligting kry, en op hierdie blad is daar meer inligting oor wat die kursus behels. In elk geval, ek het nou 'n aparte YouTube-kanaal gemaak waarop ek al die videos plaas, sodat enige persoon in die toekoms op sy eie deur die materiaal kan kyk. Skryf gerus hier in op daardie kanaal, dan kan jy die videos bekyk en die inligting van nuwe plasings ontvang. Geestelike Vorming, oor die praktyke van dissipelskap, is ons "basiese kursus".

Ten slotte dan...

  • Ek kon die CoVid-koeël nie langer koes nie, en is toe laas Sondag positief getoets. Ek dank egter die Here dat ek ten volle geënt is en was dus net drie dae ligweg siek. Ek het gedink ek het 'n kopverkoue, maar toe ek besef ek kan niks proe of ruik nie, het ek my laat toets. Die laaste week het ek geleidelik herstel en nou is ek weer reg. Watter genade! Nog 'n genade was dat 'n Christen-vriend my gekontak het, nog voor ek geweet het, met die boodskap dat ek al drie dae op sy hart druk en dat hy vir my bid, is ek oukei? Ek kon toe antwoord dat ek CoVid het en dat sy sensitiwiteit in die kol was. Dit, en die vers waarmee hy my toe bemoedig het, het my laat besef dat God in beheer is. Ek het dieselfde dag nog dieselfde vers oor myself gebid!
  • Baie welkom aan omtrent 100 nuwe lede wat in September by ons aangesluit het. Onthou jy kan enige tyd op 'n dagstukkie antwoord of kommentaar lewer of 'n gebedsversoek rig.
  • Onthou dat 'n professionele voorlesing van ons dagstukkies elke dag op hierdie WhatsApp-lys uitgestuur word. Skryf gerus in - dis lekker om bv. in die motor daarna te luister!

Ek dank die Here vir elke leser en lid, elke vriend en vennoot, elke ondersteuner en aanmoediger. Dis so 'n voorreg om die geestelike pad saam met julle te loop. Mag die Here jou ryklik seën!


Beste wense!


Jimi en Maryke

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –