Leer by die Leiers is ons nuwe reeks oordenkings!
Op 8 April 2022 begin ons nuwe reeks, Leer by die Leiers.
Ons werk deur die Bybel, van Genesis tot Openbaring, en fokus op die leiers wat ons teëkom: die aartsvaders, die geloofshelde, die konings en profete, die apostels en gemeente-leiers, en ons probeer by hulle lesse leer. Ons leer ook by die Here, natuurlik. Ons leer by hulle lewenslesse, geestelike lesse en leierskapslesse. Ons leer ook by die slegte leiers - wat ons NIE moet doen nie! Ons uitgangspunte is steeds die volgende:
- Ons oordenkings bly 'n kort stiltetyd: ons lees die Woord, ons dink oor die betekenis en bid dan daaroor. Ons glo nie 'n daaglikse oordenking is 'n minderwaardige stiltetyd nie. O nee, as jy dit reg doen, sal Leer by die Leiers 'n kragtige hulpmiddel wees vir jou daaglikse tyd met God.
- Ons oordenkings is egte Bybelstudie. Ons skryfwerk fokus nie net op die mooi verse, of die beloftes of seëninge nie. Ons vertel die hele storie, die goed EN die sleg, die voordele EN die voorwaardes. Ons lê die Skrif uit en pas dit toe. Ons stel ook nie net in droë Bybelkunde belang nie - nee, ons wil diep gaan, intens geestelik, na aan die Here. HY praat!
- Ons oordenkings is kort en kragtig - ons sê wat ons moet sê in omtrent 160 woorde. Ons probeer altyd by een of ander praktyk uitkom, nie net 'n algemene waarheid stel nie.
- Ons oordenkings staan apart. Ons probeer nie om 'n "leierskapboek" te skryf, of die groter Bybelverhaal te vertel nie. Elke dagstukkie verskaf sy eie les, sy eie waarheid. Dit mik steeds om 'n unieke woord van God vir daardie dag oor te dra.
Ons gebruik weereens Die Bybel - 'n Direkte Vertaling (BDV). Dit is die amptelike nuwe Afrikaanse vertaling wat in November 2020 bekend gestel is. Dit vertaal baie naby aan die oorspronklike teks, na aan die antieke leefwêreld.
Ons het weereens 'n "kontemplatiewe moment". Ons eindig met 'n aantal vrae vir jou, wat die tema huis toe bring. Maak gerus daarvan gebruik - skryf daaroor in jou joernaal, of neem dit in jou dag in...
Wesenlike Woord is ook in Engels beskikbaar. Om op BY THE WAY in te skryf, kliek hier.
As jy reeds ons oordenkings kry, sal jy outomaties die nuwe reeks ook ontvang. Ons oordenkings is gratis.
As jy nog nie ons oordenkings ontvang nie, kan jy daarop inskryf deur op hierdie GEEL SKAKEL te kliek:
- Om meer oor ons oordenkings te lees - kliek hier
- Kontak ons gerus met enige verdere navrae!
Replies