Paasfees is al deur die vroegste Christene gevier
Paasfees is een van die vroegste feeste wat in die kerk gevier is. Die Christene het geweet dat Jesus hulle paaslam is (1 Kor 5:7) en die aanduidings in die kerkgeskiedenis is dat die generasie na die apostels reeds die pasga op ‘n unieke en Christelike wyse gevier het. Die sentrale element van hulle Paasfees was die kruisiging en opstanding van Jesus Christus, wat vir die kerk die kern van hulle geloof was. Met die eeue het die gebruike rondom die Paasfees uitgebrei. Een daarvan is die vastyd wat die Paasfees voorafgegaan het, die "Lydenstyd", ook genoem “Vaste” of Engels “Lent”. Rondom 200 nC skryf Ireneus oor die vastyd dat dit reeds in die vorige generasie (m.a.w. minstens tot by die apostoliese vaders, die geslag na die apostels) ‘n instelling was, alhoewel dit toe nog nie 40 dae lank was nie. Teen 325 n.C. - toe die Konsilie van Nicea finaliteit gebring het oor die Drie-eenheid - was dit reeds 'n instelling. Om Paasfees te vier was dus vasgemaak voor die leer van die Drie-Eenheid al vasgemaak was! Ons volg dus in die gebruik van die vroegste Christene as ons dit ook vier.
Daar is egter mense wat 'n beswaar het teen die vier van Paasfees - en die sosiale media is vol daarvan. Die trant is dat die kerk leuens verkondig, nie bereid is om die "waarheid" te hoor nie, of heeltemal mislei is om heidense feeste te verkoop - of dat daar 'n hele komplot van die "valse kerk" aan die gang is. Dis ontstellend en glad nie waar nie.
Gaan Paasfees oor 'n heidense godin? Beslis nie.
Dit is populêr vir diegene om te sê dat die hele Paasfees op grond van die Engelse naam “Easter” eintlik ‘n heidense oorsprong sou gehad het. In 'n sin is die hele argument vir ons irrelevant, want wat die Engels (of enige ander taal) 'n antieke Christelike fees noem, om watter rede ook al, verander niks aan die feit dat daardie fees van die begin af op geldige wyse gevier is - en oor die hele wêreld veral "Pasga", of "Paasfees" heet (soos by ons), die woorde van die gelyknamige Joodse fees. Sê nou in Spaans word Pase nog iets anders genoem, onder allerhande heidense invloede - moet ons dan dadelik ons eie feesvieringe stop? Natuurlik nie.
Kom ons kyk egter na die gedagte van die Easter en die sg. godin Eostre. Dit gaan alles terug na een enkele verwysing in die geskiedenis. Die Engelse monnik Bede vermeld in 725 nC dat die Engelse woord "Easter" genoem is na die ou naam van die maand waarin Paasfees gevier word. Die maand was dus eers Eostre en later is dit genoem April. Hy voeg by dat die maand genoem is na 'n godin wat die Engelse vroeër gehad het, wat 'n fees in daardie maand gehad het. Onthou, Bede – die enigste persoon wat so ‘n godin vermeld – verwys na tye honderde jare voor hom en sê self dat hy net die Christelike gebruike rondom Pase ken. Dis die hele storie. Alle verdere konneksies tussen Eostre en Paasfees is op hierdie een stelling van hom gebaseer en is blote spekulasie, selfs wie en wat die Eostre sou kon wees, word afgelei uit hierdie een stelling. Alles wat Jacob Grimm in die Deutsche Mythologie en die godin Ostara skryf is op Bede en op linguistiese assosiasies gebaseer. Die vrome Bede sou 'n oorval gekry het as hy moes weet dat sy kommentaar op Paasfees daartoe sou lei dat mense 1300 jaar later glad nie meer Paasfees wil vier nie! Kom ons pak dit egter nog 'n bietjie uit:
- Ons Paasfees se datum kom van die Joodse Pasga af, wat uitgewerk word (volgens die maan) om in laat Maart of in April te val. Die datum van die Hebreeuse fees het dus met die Engelse of hul Eostre NIKS te doen nie! Die Christelike Paasfees is rondom dieselfde tyd gevier. As ons Paasfees verband sou hou met die heidene se feeste, dan kan ons net die Jode blameer, want ons kry ons Paasfees by die Joodse Pasga. Maar natuurlik blameer ons hulle nie - die SKRIF sê immers dat die Paga op 15 Nissan, Hebreeuse kalender, moet wees. Om dus te maak asof Christene 'n "heidense" paasfees vier, omdat die heidene rondom hierdie tyd feeste gevier het, is net 'n totaal verkeerde verband. Blote ooreenkoms in tyd maak nie van 'n Christelike fees 'n heidense fees nie, en dis reeds gesê dat enige inhoudelike verband geen oorsaaklike bewyse het nie. Daar is mense met verbasende ywer teen die Christendom, maar tog sonder die nodige kennis of insig in die geskiedenis. Onthou, die hele wêreld was heidens en die hele jaar was vol heidense feeste. Die feit dat die Lente, of Winter, sekere temas na vore bring in mense se feeste (heidens, Joods en Christelik) maak dit eerder 'n universeel-menslike saak, nie 'n heidense saak per se nie - almal is immers bly oor die Lente, ons as Christene ook, elke jaar! 'n Fees gaan streng gesproke oor sy eie inhoud, simbole en bedoeling en die Paasfees gaan oor die grootste gebeurtenis waaroor Christene maar KAN feesvier: Christus wat op die Joodse Pasga aan die kruis geoffer is as Lam van God.
- Kan ons ook net onthou dat baie van ons maande ook na gode genoem is - ek dink aan Januarie (Janus), Maart (Mars), April (dalk Afrodite), Junie (Juno), Mei (Maia) en sommer al die dae van onsweek - en dit maak nie dat ons met afgodery besig is nie. Dis wat ons noem kultuurgeskiedenis.
- Sommige trek 'n verband tussen die Babiloniese godin Ishtar en die Engelse woord Easter, maar letterlik die enigste verband is die feit dat die woorde dieselfde klink. Verder is daar geen bewys, skakel of verband hoegenaamd - om bv. te sê dat Ishtar se simbole die haas en die eier was, is om Paasfeesgebruike 'n paar duisend jaar terug te projekteer, antieke tekste ken NIKS daarvan nie. (Kyk gerus hier onder wat ons skryf oor die totaal onbetroubare spekulasie, genaamd The Two Babylons). Dis presies soos wat sommige sê "Christ" is eintlik die Hindoe-god Krishna, klink dieselfde as mens dit in Engels sê, sien? Teen sulke redenasies is niemand bestand nie.
Ondersoek self hierdie dinge deur betroubare en wetenskaplike bronne te lees (WIkipedia sal al doen) - nie die honderde websites wat Christene aanval (meestal vandag deur ateïste soos Richard Dawkins), wat die heeltyd net dieselfde vals inligting rondstuur en mekaar op die skouer klop oor hoe liggelowig en dom die ou Christene is nie. (Dawkins het sy web-posts hieroor teruggetrek). Ons sê dus dat die feit dat die Engelse Paasfees Easter noem bloot om historiese redes is, wat in elk geval nie die res van die wêreld raak nie. Reeds vir byna 2000 jaar gaan Paasfees SLEGS oor die dood en opstanding van Jesus Christus. Daarom vier ons dit met oorgawe.
Het sekere Paasfees-gebruike 'n heidense oorsprong? Dalk - of ook nie.
Was daar beïnvloeding vanaf die heidense feeste wat rondom die aanbreek van die Lente gehou is? Ja, moontlik. Met die koms van die Lente was daar Lentefeeste oor die hele wêreld (soos die Joodse Pasga ook 'n Lente-fees is), waarvan die tema die nuwe lewe en die komende vrugbaarheid was. Dit is natuurlik en menslik dat die temas in die feeste sal reflekteer, selfs in die "Bybelse" Joodse feeste. Omdat sommige Christelike feeste in tyd met heidense feeste ooreengeval het, het daar wel 'kruisbestuiwing' oor tyd een plaasgevind (alhoewel die Christelike feeste natuurlik totaal "gewen" het en die heidense feeste feitlik heeltemal verdring het, nè?). Ons moet onthou dat die Christendom stadig - oor dekades en eeue - veld gewen het in 'n volk of gebied. Vir lank is beide feeste gevier. In die vroeë Christendom is heidense gebruike dikwels “tot bekering gebring” deur dit van ‘n "meer korrekte, Christelike betekenis” te voorsien - elders (by ons behandeling van Kersfees) skryf ons meer daaroor. Kom ons kyk na die mees prominente moontlike "heidense" gebruike by Paasfees:
- Die haas, in hierdie geval die paashaas word gesien as 'n simbool van vrugbaarheid wat uit die heidendom oorgeneem is. Nogtans is die eerste gebruik van die haas by Paasfees uit die Lutherse Kerk in Duitsland, wat dus na die Reformasie was - so 500 jaar gelede eers. Nie uit heidense tye nie! Die haas was soos Kersvader die een wat paaseiers vir soet kinders gebring het. Deur die Duitse setlaars is dit later na Amerika geneem, waarvandaan dit seker die laaste 100 jaar oor die wêreld populêr geword het, veral om kommersiële redes. Was die haas eintlik 'n heidense invloed - aangesien die haas wel in heidense gelowe 'n vrugbaarheidsimbool was? Wie weet? Dis eintlik net spekulasie - dis weer (soos die kersboom) 'n kwessie van dat die heidene dit gedoen het, toe 1500 jaar niks, en toe begin die Protestante daarmee. So 'n "skakel" tel werklik nie eintlik vir iets nie. Die vraag is egter waarom dan spesifiek 'n haas, maar die antwoord kan eweneens wees (tot daar beter bewyse is), dat dit uit dieselfde plek kom as die haas in Alice in Wonderland of Winnie-the-Pooh se vriend Rabbit - m.a.w. 'n blote dierekarakter ter wille van die kinders. Noord-Europa se kinderverhale is vol sulke dierekarakters en fabels. Die kort oplossing vir die wat 'n probleem daarmee het - dit het immers geen geestelike betekenis nie - is om die paashaas nie 'n Paas nie, maar 'n pass te gee - en dit doodgewoon nie te inkorporeer in die fees nie.
- Eiers was ook bekende simbole vir vrugbaarheid in die heidendom, maar dit was al van vroeg af deel van die Christelike Paasfees. Die vroegste gebruik daarvan by Pase kom egter nie uit Europa of Engeland, met sy Eostre-agtergrond nie, maar by die Christene in Mesopotamië. Hulle het dit waarskynlik by die Jode gekry, by wie eiers 'n groot simbool is vir Pasga. Dit geld in alle gevalle as simbool van nuwe lewe - en dus die opstanding - en Christene sê die eierdop is soos die graf wat Jesus agtergelaat het, toe Hy opstaan uit die dood. Ons sien paaseiers dus nie eintlik as heidense element nie - eerder 'n Joodse. Aangesien die eet van eiers verbode was gedurende die Vaste, kon hulle dit slegs bêre deur dit te kook, en was daar ook baie eiers beskikbaar om te eet op Paasfees. Dit is 'n antieke Christelike gebruik om gekookte eiers rooi te verf vir Paasfees, om die bloed van Jesus te herdenk. Ja, dis al so 1600 jaar 'n Christelike paas-simbool. Maar hei, wie sê jy moet paaseiers koop, soek of eet? Los dit dan bloot uit. (Maar miskien moet ons dan net ook vir die Jode gaan sê hulle moet dit uit hul Pasga uithaal, want dit staan immers nie in die Bybel nie - het hulle die eier dalk uit die heidendom gekry?)
Moet ons ooit Paasfees, Kersfees, ens. vier? Nie noodwendig nie.
Sommige sê dat ons nie Paasfees, Kersfees, ens. moet vier nie omdat Jesus, of die Bybel oor die algemeen, dit nie beveel het nie. Dit is egter ‘n swak argument omdat Jesus baie dinge nie beveel het nie: dit is egter ons, sy kerk, se manier om te herdenk wat Hy vir ons gedoen het. Sommige - van die Hebrew Roots-beweging - wil dat ons eerder die Joodse feeste vier. Ons vier egter nie meer die Joodse feeste (sabbatte, pasga, ens. nie), doodgewoon omdat ons nie Jode is nie. Ek skryf elders uitvoerig daaroor, maar dis duidelik uit Handelinge en Paulus se briewe dat die nie-Joodse Christene GEENSINS met die Joodse wet, feeste of besnydenis belas is nie. Hulle (die Griekse Christene) het nog nooit die wet, Sabbat of feeste gehou (of eers geken) nie - en toe hulle Christene word is besluit (Hand 15) dat hulle nie ook nog eers Jode hoef te word nie. Daaroor kan daar nie veel argument wees nie. Paulus se hele argument is TEEN die Judaïseerders, wat hulle weer onder die wet wil insleep - trouens, hy het harde woorde vir hulle - anathema - wat eintlik 'n vervloeking is (Gal 1:8-9, lees die hele Galasiërs, wat Paulus rig aan nie-Joodse Christene wat gedwing voel om die Joodse wet op te neem). Nee, ons kan nie na die "minderwaardige eerste beginsels" (Gal 4:9-11, met verwysing na die Joodse Sabbatte en feeste) terugkeer nie, want dit waarna dit alles verwys het, is volkome vervul in Christus. Ons vier die Joodse feeste dus NIE as 'n plig nie, alhoewel ons kan meedoen as 'n tipe viering van Christus, as 'n getuienis teenoor die Jode en om meer te leer oor ons geloof. Ek glo Joodse Christene kan of moet dit wel doen.
Ons eie feeste is ook nie wette of pligte nie en ons is vry om te vier of ook nie. Ons hoef nie elke fees, gebruik of gewoonte oor te neem nie, want vandag word dit verskriklik gekommersialiseer - die eintlike probleem met Christelike feeste! Die belangrike is steeds my verhouding met God en die leiding van sy Gees. Ons is vrygemaak van alle menslike godsdiens en tradisies. Hierdie is bloot dinge wat ons kan help om die Here te dien – soos wat ‘n stiltetyd doen (iets wat Jesus ook nie beveel het nie) en geestelike dissiplines.
PERSOONLIKE GETUIENIS: Ek self kom uit 'n Duitse huis en ons het nog altyd 'n Paasfees gevier wat net om die Here gegaan het. Om paaseiers te soek in die tuin was deel van die tradisie en het glad nie afbreuk gedoen aan die betekenis van die dag nie. Die Paashaas het nie eintlik 'n rol gespeel in ons huis nie, alhoewel ons natuurlik 'n goeie hoeveelheid sjokolade-hase opgeëet het oor daardie tyd. My ouers was toegewyde kinders van die Here.
Kyk asb. wat ons geskryf het oor Lydenstyd - kliek hier
Meegaande is 40 oordenkings wat jy oor Lydenstyd kan gebruik - kliek hier
Kyk ook wat ek geskryf het oor THE TWO BABYLONS van Alexander Hislop - kliek hier
Replies