ANTWOORD OP: Maak jou huis skoon….

‘n Paar mense het vir my geskryf in die verband (en ons praat nie van afstof en stofsuig nie, maar van die geestelike ding) en die volgende is my persoonlike opinie:

Ek stem saam dat die volgende nie in ‘n Christen se huis hoort nie:
• Afgode van een of ander aard – boedhas, regte Afrika of ander afgodsbeelde, ens. al is dit ornamente (en ek weet jy aanbid dit nie regtig nie). Dit gaan vir my nie oor die mag wat dit sou uitoefen net deur hulle teenwoordigheid nie. Dit gaan vir my oor die getuienis wat ons huise uitdra. Sit eerder ‘n vers teen jou muur, of ‘n prent van Jesus. Wat sê jou huis vir mense wat daar inkom? Wie word in hierdie huis geëer?
• Okkulte voorwerpe – dis seker duidelik dat pentagramme, ouija-borde, boeke oor heksery, ens. nie in jou huis hoort nie. Dit word gebruik om die vyand te dien. Ek sluit daarby astrologie, ens. in.
• Verslawende goed – kyk na die goed wat jou verslaaf het: pornografie, drank, dobbel, dwelms, ens. Getuig dit van die Here en jou lewe vir Hom? Nie? Gooi weg wat die Here nie eer nie.

Ek stem nie saam met die volgende nie:
• Enige Afrika of Oosterse ding. Soms is mens onseker (soos met sommige maskers), maar dis regtig verkeerd om elke prent, vaas, ens. weg te gooi NET omdat dit in Indië gemaak is, of ‘n afrika-motief het. Dis meestal net gebruiksgoedere, of gemaak vir die toerisme mark. Dis NIE een van die bg. kategorieë nie;
• Dat sekere goed ‘n vloek meganies oordra. M.a.w. ‘n blou jean, ‘n porseleinpop, ‘n oorbel, ‘n wind chime, ‘n das met ‘n sekere motief op, margarien met ‘n halaal merk op, sulke goed (al hierdie dinge is al genoem) Let asb. op:
o Vloeke “vat” nie noodwendig op ‘n Christen nie. Lees Num 23:23 in ‘n paar vertalings. Bileam probeer Israel vervloek, maar kry dit nie reg nie. Daar is geen vloek teen die wat deur God geseën is nie (Num 23:8, 20). Lees dit ook in Spr 26:2, Ps 109:28. Om hierdie tipe vloek te verdien, moet jy aktief ernstige sonde gaan soek: satanisme, okkultisme, ernstige seksuele goed, ens. Dit dra nie oor deur ‘n feetjie poppie nie. Dit is nie meganiese goed nie, dis persoonlike goed.
o As dit waar sou wees, sou ons in vrees moes leef. Onthou, dis vandag Maandag (al die dae van die week is na afgode genoem: die son, maan, Wodin, Thor, Friga, ens.), dis dalk Januarie (vernoem na die afgod Janus), ons het ‘n TV waarop daar goed in ons huise uitsaai waarvan ons nie weet nie (ons kyk nie altyd nie), daar is boeke (soos ensiklopedieë, met prent en info van honderde afgode) in ons huise, daar kom iemand in ons huis in wat rook (dalk rook ons self – ‘n verslawing), en dan kom dra al daardie dinge vloeke op ons oor waarvan ons nie eers geweet het nie. Nee. En onthou, as ons eers begin het om daardie lysie te maak, word hy net langer en langer en langer. Ons kan nie so leef nie, en God se bedoeling is om ons vry te maak van sulke bygeloof. Die Here is GROOT GENOEG om ons in vryheid te laat leef.

Hoe hanteer Paulus…
…die vleis wat in ‘n afgodstempel aan afgode geoffer is? Onthou, al hulle vleis is eers aan afgode geoffer. Dis of dit of geen vleis nie! Hy sê…
• Dat hulle moet wegbly van afgodsdiens – dit gaan oor bose geeste (1Kt 10:14-22)
• Dat hulle nie in die afgodstempel moet gaan sit en eet nie – dit tart die Here (1Kt 10:21)
• Dat hulle wel die vleis kan koop en by die huis gaan eet, want “alles behoort aan God” (1Kt 10:25-26)
• Dat hulle maar enige vleis by enige-iemand kan eet, want hulle gewete is voor die Here vry (1 Kt 10:27, 29-30)
• Dat hulle getuienis egter belangrik is, en as dit as ‘n “afgodsoffer” voorgesit word, hulle dan moet distansieer (1 Kt 10:28)
• Dat hulle nie aanstoot moet gee nie, en ‘n swak broer in ag moet neem (1 Kt 10:23-24, 31-33).
Sien jy die argument? Ons is eintlik vry. Maar ons gaan nie agter die duiwel aan tot binne in sy tempel om ons “vryheid” te beoefen nie – dis dom! En ons gaan ons getuienis dophou. En ons kan ook ons “reg-tot-vleis” ook prysgee as dit moet (1Kt 8:10-13)!

Dus…
…ons moet DIE LEWE LEEF, en ons moet dit in die WêRELD leef. Dit beteken dat mense om jou gaan vloek en skel, dat jy op TV allerhande goed sien wat jy nie van hou nie (ook op die nuus), dat jy nie saamstem met alles in elke fliek of storie of koerant nie, en dat jy die grens iewers sal moet trek. Ja, sekere flieks, games, boeke, ens. is uit. Soos in heeltemal. Ja, af en toe kan ons weer “skoonmaak”. En natuurlik gaan soek ons nie aktief op dit wat duidelik verkeerd is nie. Maar ons moet ook nie dink dat ons die wêreld (en die wêreld is die totale sisteem om ons), die Bose, en die sonde kan ontsnap nie. Bly praat met jou kinders oor wat julle nou op TV sien, en hoe dit verskil van ons gesin se waardes. Stuur hulle die wêreld in met ‘n sterk besef van waardes en beginsels. Maar moet hulle nie die wêreld instuur met vrees nie. Nie vir die Bose nie, nie vir die goeters nie, en nie vir mense nie. Vrees vir Hom, ja – maar ons weet die vrees van die Here is agting, respek, geloof, vertroue, oorgawe, verhouding, liefde.

God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing (2Tm 1:7).

Jimi le Roux

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –