Daar is veral twee sieninge (eintlik meer) oor die dag van die kruisisiging:
1. Die tradisionele siening is dat Jesus op die Vrydag gekruisig is, die Saterdag in die graf was en die Sondag opgestaan het. Mens kan dit so aflei as jy die evangelies lees. Jesus moes begrawe word voor die Sabbat aanbreek, die vroue het op die Sabbat gerus volgens die gebod, maar op die eerste dag van die week gegaan om die liggaam te balsem. Dit maak drie dae of dele van dae (wat ook as dae getel is) in die graf - 'n deel van Vrydag, die hele Saterdag en 'n deel van Sondag. Wat betref “drie dae en drie nagte” waarvan Jesus praat (Mat 12:40) word dan gereken dat Hy dit nie letterlik bedoel nie, maar figuurlik om ooreen te val met wat met Jona gebeur het. Daar word dan ook gesê dat dit net ‘n ander manier is om van ‘n dag te praat – m.a.w. as ons algemeen van ‘n dag praat, bedoel ons eintlik die dag en die nag: dit verwys na dieselfde saak. Hierdie is seker die 99% siening;
2. Die ander siening, wat ook deur sekere bekende Nuwe Testamentici gehuldig word is dat Jesus die Woensdag gekruisig is. Die Woensdagnag en Donderdag was dan die eerste nag en dag (hulle dae het mos op sonsondergang begin); die Donderdagnag en Vrydag was die tweede nag en dag; die Vrydagnag en Saterdag was die derde nag en dag – dit gee dus drie volle periodes van 24-uur elk. Wat aangevoer word in hierdie argument kom uit Joh 19:31, waarin gesê word dat die komende Sabbat ‘n "groot Sabbat" was, m.a.w. ‘n besondere feesdag. Jesus is dan gekruisig op die Woensdag, en was dan "drie dae en drie nagte" in die graf: Donderdag, die eerste dag van die Pasga (die "groot Sabbat"), die gewone Vrydag en die gewone weeklikse Sabbat op Saterdag. Die Sondagoggend was die graf leeg.
Hoe moet ons daaroor oordeel?
Die wat by die eerste standpunt bly, soos die meeste kommentare, sê dat die “groot Sabbat” daarop dui dat die weeklikse Sabbat en die Pasga ooreengeval het. Toe Jesus gekruisig is, en die volk besig was om vir die Pasga gereed te maak, was dit dus Vrydag. Die punt wat eintlik oorweeg moet word, is dit:
- die evangelies sê net dat die vroue op die "Sabbat" gerus het, nie dat hulle op die Pasga, of die Vrydag, gerus het nie. Ons kry die indruk dat Jesus haastig in die graf gebring moes word, dat hulle verhoed is om Hom te balsem a.g.v. die Sabbat en dat Sondagoggend die eerste kans was wat hulle gehad het;
- ons moet regtig wonder of die vroue drie volle dae en nagte sou oorslaan, en DAN die liggaam wou gaan balsem. Van Lasarus se drie dae in die graf word gesê "hy ruik al" - ja, sou hulle nog wou gaan balsem?
Daar is dus goeie redes vir die tradisionele standpunt - en daar is nie 'n komplot om die Christene te mislei oor Paasfees nie! Beide standpunte is egter seker teoreties moontlik en ek dink die belangrikste les in beide gevalle is die feit dat Jesus op die voorbereiding van die Pasga, toe die ander lammers geslag is vir die Pasga-offer, ook vir ons geslag is as God se Pasga-offer vir ons sonde. Hy IS die Pasgalam - dit is die wesenlike saak waaraan ons moet vashou. Die res kan ons oor redeneer, as ons dit in liefde doen.
Lees ook my algemene antwoord oor Paasfees, ens.: kliek hier
Of kyk ook na ons ander antwoorde oor geestelike vrae: kliek hier
Replies